Mac Kay mag weer skoolhou ná ontslag – SAOU

0
1252
'n Klaskamer by die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein waar Lenard Mac Kay 'n onderwyser was. FOTO: ARGIEF

‘n Vrystaatse onderwyser, wat ná ‘n interne dissiplinêre verhoor deur die provinsiale departement van onderwys skuldig bevind en as ‘n onderwyser aan die Laerskool Wilgehof in Bloemfontein ontslaan is, mag weer skoolhou. Lenard Mac Kay is in 2013 deur die departement aangekla en tydelik geskors nadat hy ‘n ou Suid-Afrikaanse landsvlag en foto’s van Julius Malema en bobbejane in sy klaskamer vertoon het.

Die sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat, Reniél Lodewyk, sê Mac Kay, wat in 2014 by dié skool ontslaan is omdat hy “onbehoorlik, skadelik en/of onaanvaarbaar” opgetree het toe hy die ou landsvlag en spotprente van Malema en bobbejane in sy klaskamer vertoon het, is destyds ook deur die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (Sace) skuldig bevind.

Hy sê egter die SAOU, wat hom steeds in die saak verteenwoordig, het toé ‘n skikking met Sace bereik waarin die skrapping van Mac Kay se naam op die onderwysersrol opgeskort gaan word vir ‘n tydperk van tien jaar. Dít op voorwaarde dat hy hom nie weer skuldig maak aan dieselfde tipe wangedrag nie. Lodewyk sê op grond van dié skikking, mag Mac Kay in diens geneem word deur ‘n beheerliggaam van enige skool sedert die skikking onderteken en in 2014 bekragtig is.

Dit kom nadat die Menseregtekommissie (MRK) verlede jaar teen die onderwysdepartement uitgevaar het toe Mac Kay ondanks sy skuldigbevinding deur die onderwysdepartement, deur die beheerliggaam van die Dr. C.F. Visser-skool as onderwyser aangestel is. Mac Kay het later by die skool bedank, maar is verlede week deur die Trompsburg Primêre skool se beheerliggaam as onderwyser aangestel. Lodewyk sê Mac Kay mag weer skoolhou en is in ‘n beheerliggaampos aangestel. Dit beteken dat sy tydelike aanstelling by die Vrystaatse skool buite die onderwysdepartement se beheer is.

Lodewyk sê nadat Mac Kay deur die departement in ‘n interne verhoor skuldig bevind en uit sy pos by Laerskool Wilgehof ontslaan is in 2014, het die SAOU verlede jaar ‘n klag van onbillike ontslag by die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) ingedien. Dié arbitrasieproses is steeds aan die gang. Mac Kay is ook destyds deur die departement skuldig bevind omdat hy tydens sy skorsing, hangende ‘n dissiplinêre verhoor, met ‘n leerling van die Laerskool Wilgehof gekommunikeer het. Woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, Howard Ndaba, was nie beskikbaar vir kommentaar nie. – Christal-Lize Muller