Mac Kay gekies vir Afrika-kampioenskap

0
702
Len-Douglas Mac Kay slyp vir aanstaande maand se Suid -Afrikaanse kampioenskap vir lewensredding in Gqeberha. FOTO: MORGAN PIEK

Die 17-jarige Len-Douglas Mac Kay van Bloemfontein is opgewonde om Suid-Afrika later vanjaar te verteenwoordig op die 2021-ILS Afrika-lewensreddingkampioenskap wat in Alexandrië, Egipte sal plaasvind.

Dié leerling aan die Hoërskool Jim Fouché is die enigste deelnemer uit die Vrystaat wat gekies is vir die nasionale span om aan die kampioenskap deel te neem.

Hoewel Mac Kay aan lewensredding deelneem, is hy natuurlik ook ‘n sterk swemmer wat by dieselfde afrigter as dié van die huidige 50m-rugslag-wêreldkampioen, Zane Waddell van Bloemfontein, begin het. Waddell het intussen uitgetree ná sy wêreldtitel en woon steeds in Amerika.

Mac Kay swem vir die Neptunes-swemklub en word geslyp deur Clinton Thomas. Mac Kay sal aanstaande maand tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Gqberha (Port Elizabeth) ‘n kans hê om voor te berei vir die Afrika-kampioenskap, maar hy wil ook die geleentheid gebruik om sy plek te bespreek by die wêreldkampioenskap wat in Birmingham, Alabama, in die VSA sal plaasvind.

Mac Kay wil, nes Waddell, aan die Universiteit van Alabama studeer, wat een van die top-swemkolleges in Amerika is. Indien hy vir die wêreldkampioenskap kwalifiseer, sal dit hom moontlik die kans gee om die afrigters by die Crimson Tide te beïndruk.

Mac Kay het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy opgewonde is en hy beoog ‘n finaal of ‘n top-vyf in die wêreld.

“Lewensredding is nog nie baie gewild as sport in Suid-Afrika nie, aangesien dit nog redelik nuut is, maar ek is opgewonde om te gaan deelneem in Alexandrië.

“My doelwit is egter om ‘n finaal te bereik of om onder die top-vyf in die wêreld te eindig. Die kwalifisering was nogal moeilik. Jy moet sekere tye kry, aan sekere kompetisies deelneem en jy moet diens lewer om alles wat dié sportsoort vereis, te kan doen.”

Van die lewenreddingsitems wat Mac Kay as sy sterk punte beskou, sluit onder meer in die 200m-‘super lifesaver’, die 100m-‘dummy carry’, asook die surf-swem en hardloop-swem-hardloop.

Die 2021-Afrikakampioenskap sal van 1 tot 6 Desember plaasvind.

Mac Kay is besig met fondsinsamelingsprojekte en Lenard Mac Kay kan in verband hiermee by 084 389 2039 gekontak word. – MORGAN PIEK