Maatskappy verleen hulp aan jeugsentrum

0
807
Die span vrywilligers van MMS Holdings op die dag van hul projek by Esperanza Kinderhuis.

MMS Affiliate SA (Pty) Ltd, ‘n eksklusiewe diensverskaffer en en geaffilieerde maatskappy van MMS Holdings Inc., het besluit om met Engo in vennotskap te tree en vrywilliglik noodsaaklike artikels te skenk aan kinders van die Esperanza Kinderhuis in Bainsvlei, Bloemfontein.

MMS Holdings se globale vrywilligerinisiatief bied aan alle MMS-kollegas oor die wêreld heen die geleentheid om hulp te verleen aan gerespekteerde plaaslike organisasies wat daarna streef om gesinne en individue te ondersteun.

Volgens die uitvoerende hoof van die maatskappy, Diederik van Niekerk, is hierdie ‘n hande vat-geleentheid om mede-kollegas te leer ken en terselfdertyd buite werkverband te ervaar wat dit beteken om hulp te verleen. “Alle personeellede het die geleentheid om as vrywilligers op te tree vir ‘n totaal van 16 uur per jaar. Ons Suid-Afrikaanse kollegas identifiseer elke tweede kwartaal van die jaar ‘n vrywilligheidsprojek waar die hele SA span saamkom in Bloemfontein om die projek aan te pak,” sê hy.

Op Vrydag 17 September, het 34 werknemers hul hulp vrywilliglik aangebied by die Esperanza Kinderhuis en het hulle geïdentifiseer hoedat hulle ‘n verskil kon maak in die lewe van die kinders.

Van Niekerk het aan Bloemfontein Courant vertel dat hulle op dié dag ‘n “Love-Box” vir elke kind gemaak het wat skryfbehoeftes, smulgoedjies, toiletware, ens., bevat het, permanente vlugbalpale met netbalringe opgerig het, muurrakkies in al die kamers geïnstalleer het, LED-ligte by die spiels waar die meisies hul hare doen, geïnstalleer en nuwe gordyne wat as skenkings ontvang is, in al die kamers opgehang het en ook alle donasies (klere, komberse, DVD’s/DVD-speler, matte) gesorteer het. Hulle het ook die kinders se kamers skoongemaak het en roomyshorinkies gereed gehad toe die kinders van die skool af gekom het.

“Almal het regtig die vrywilligheidsprojek geniet. Van die werknemers het selfs genoem dat hulle die volgende projek weer by Huis Esperanza wil doen aangesien daar nog ‘n paar behoeftes is waarmee hulle wil help. Ons wil graag ander organisasies in Bloemfontein uitdaag om dieselfde te doen en ‘n verskil te maak waar hulle kan,” sê Van Niekerk.Belangstellendes wat wil help by jeugsentrums in Bloemfontein, kan met Marinique du Plessis in verbinding tree by marinique@engo.co.za.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za