Maats wil diere red deur vullis-optel

0
98
Zoey Van der Merwe en Nicole Cloete het verlede Sondag rommel in Reddersburg begin optel en het besluit om hul skoonmaakaksie volgende Sondag voort te sit.

Terwyl baie ander kinders besig was om gereed te maak om terug te gaan skool toe, het twee vriendinnetjies van Reddersburg in die Vrystaat besluit om ‘n laaste goeie daad vir die vakansie te doen. Nicole Cloete (8) en Zoey van der Merwe (8) het hul roetine Sondagmiddagstappie agter Cloete se ouma se huis in die veld geneem, toe hulle tot groot ontsteltenis ‘n voël met ‘n plastiek in sy bek gesien het en dadelik besef het dat gevleuelde dier sou siek word en vrek as hy die plastiek inkry.

“Ons het toe my ouma vir ‘n swart sak gaan vra en besluit om al die rommel in daardie oop stuk veld op te tel,” vertel Nicole. Sy sê dat sy nooit weer so iets wil sien nie.
Zoey sê dit was vir haar lekker om die rommel saam met haar maatjie te kon optel en so iets vir hul dorp te kon doen. Volgens haar strooi mense rommel oral en bederf hul mooi dorp.

Die twee maats het besluit dat hulle volgende Sondag ‘n ander plek gaan skoonmaak sodat hulle kan verseker dat geen diere weer plastiek eet nie.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za