Maarsingh is bergfietsreeks-kampioen ondanks ‘n val

0
724

RUFUS BOTHA 

Die op-en-wakker bergfietsjaer van die Hoërskool Grey-kollege, Rinus Maarsingh is gekroon as die Spur Anatomic Vrystaat MTB-skolereekskampioen in die afdeling vir jeugseuns (15 tot 16-jaar). Dit nadat hy Saterdag in Welkom by die laaste byeenkoms van die reeks ‘n nagmerrie beleef het.
Die ongeluksvoël het Maarsingh in die vierde van vyf rondtes van sowat 5 km elk getref toe hy met ‘n pap wiel moes onderhandel om die wedren te kon voltooi.
Ondanks dié terugslag het Maarsingh Saterdag steeds vierde (56:15) geeindig in ‘n wedren sy spanmaat en vernaamste teenstaander, Francois Annandale verspotmaklik in 52:20 beklink het.
Annandale moes egter tydens die eerste drie wedrenne van die reeks in Maarsingh se agterwiel vaskyk. Maarsingh het almal gewen, terwyl Annandale nie een keer swakker tweede klaargemaak het nie. Let wel, Annandale kan aanstaande jaar steeds in dié afdeling deelneem terwyl Maarsingh opskuif na die junior-ouderdomsgroep.
Maarsingh het met sy eerste drie oorwinnings genoeg punte opgestapel om uiteindelik die reeks met 45-punte te wen teenoor Annandale se 39-punte.
Grey het skoonskip in die jeug-ouderdomsgroep gemaak met Carlo Erasmus wat derde was met ‘n reekstotaal van 29-punte. Hy was Saterdag met ‘n tyd van 55:27 meer as drie minute agter Annandale toe hy tweede oor die eindstreep gejaag het.
Grey se voorste bergfietsryer, Marc Fourie het Saterdag die juniorwedren (seuns 17 tot 18-jaar) oudergewoonte op ‘n spreekwoordelike drafstap gewen. Hy het die vyf-rondte wedren in ‘n kookwater 1:04:24 agter sy naam geskryf en sodoende vir Cobus van den Berg (Afrikaans Hoërskool Sasolburg) maklik laat stof sluk. Van den Berg het 1:06:13 op die uitslagkaart ingevul en moes sy speke laat sing om voor die Hoërskool Sasolburg-jaer, Marco Steyn (1:06:38) te eindig.
Fourie, wat nié aan die eerste wedren van die reeks deelgeneem het nie, het die laaste drie gewen en genoegsame punte (45) verdien om as reekskampioen (juniors) gekroon te word. Van den Berg (36-punte) was tweede in die reeks en Hanzein Ezendam (Grey) derde met 33-punte.