LANI FOUCHÉ
Sukkel jy om gewig te verloor? Is jy gereeld dors? Moet jy kort-kort badkamer toe hardloop? Het jy ’n naalde-en-spelde gevoel in jou hande en voete? As jy ‘ja’ op een of meer van hierdie vrae geantwoord het, mag jy dalk aan een van die mees algemene kroniese siektes in Suid-Afrika ly.
Diabetes is veral vandag in die kollig met Wêreld-diabetesdag wat in verskeie lande gedenk word. Die tema vir vanjaar se diabetes-dag is “Think Blue! Wear Blue!”, maar wat is diabetes, en waarom so ’n groot bohaai daarvan maak?
Die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, wat vanjaar saam met Pathcare patologiese dienste ’n Diabetes-bewusmakingsdag aanbied, sê diabetes is ’n defek in die liggaam se vermoë om glukose, oftewel suiker, na energie om te skakel. “Glukose is die liggaam se spreekwoordelike petrol. Wanneer kos verteer word, word dit omgesit in vette, proteïene en koolhidrate. Om glukose in die bloedstroom te vervoer na die selle, word die hormoon insulien benodig.” Met diabete is die proses versteur en vervaardig die pankreas nie genoeg insulien nie.
Tipe 1-diabetes staan ook bekend as insulien afhanklike diabetes, en tipe 2-diabetes is beter bekend as nie-insulien afhanklike diabetes.
Onlangse navorsing toon dat tot 80% van die tussen vier- en sesmiljoen diabeteslyers in Suid-Afrika nie bewus is dat hulle dié siekte het nie.
“Dis omdat mense hulle nie daarvoor laat toets nie,” sê Wim Grobbelaar, direkteur van die Suid-Afrikaanse vereniging van gemeenskapsapteke in die Vrystaat en Noord-Kaap.
Dié vereniging het daarom gepoog om in Oktober 100 000 mense gratis by uitgesoekte apteke vir diabetes te laat toets. “Ons het redelik naby aan daardie getal gekom, maar ons sal nog heelwat sulke veldtogte moet hou om nog meer mense te laat toets,” sê Grobbelaar.
Dit is gewoonlik mense wie se lewensstyle baie verander het en meer sosiaal geword het, wat diabetes ontwikkel, indien dit nie oorgeërf is nie. Verkeerde eetgewoontes en ’n onaktiewe leefstyl dra by tot die ontwikkeling van diabetes. As ’n diabeet nie betyds sy of haar medikasie ontvang nie, kan so ’n persoon in ’n hipo- of hiperglisemiese koma val, wat lewensbedreigend kan wees, sê Grobbelaar.
Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste voorkoms van diabetes ter wêreld. Dit is hoofsaaklik weens swak eetgewoontes en ongesonde leefstyle van sy inwoners.
Hoe kan ek keer dat ek ’n diabeet word?
- Doen gereelde kardiovaskulêre oefening, soos stap, draf, fietsry of swem.
- Eet gesond. Vermy kitskosse wat baie energie gee, maar nie lank hou nie. Eet meer vleis, groente, vrugte en slaaie, en minder brood, pasta en lekkers.
- Ontlaai jou spanning. Stap met jou hond of speel met die kinders na werk om jou aandag af te lei.
- Sorg dat jy elke nag ’n goeie nagrus inkry.
- Drink ’n glas water vir elke uur wat jy wakker is.