Maak jou kind finansieel geletterd

0
Maak jou kind finansieel geletterd

Horrace Terry

Hoe belangrik is finansiële geletterdheid, veral by kinders en jongmense? Tans blyk die vlakke van finansiële geletterdheid baie laag onder kinders en jongmense te wees. Baie jongmense trap in bekende slaggate, omdat hulle nie van kleins af geleer is van die verskillende aspekte van finansies nie. So sal jongmense vroeg reeds kontantvloeiprobleme ontwikkel, of vasgevang word in ’n spiraal van skuld, doodeenvoudig omdat hulle onkundig is oor finansies en verkeerd beplan. Begin dus al vroeg jou kind van geld te leer. Leer hulle van munte en die verskillende geldnote en leer hulle wanneer iets verniet is, soos byvoorbeeld ’n maatjie se vriendskap en wanneer daar vir iets betaal moet word, soos byvoorbeeld ’n roomys.

Sodra jou kind ouer word kan jy hom/haar ook betrek by kleiner besluite rakende die huishouding. So kan jy hom/haar saamneem na die supermark, en hom/haar laat besluit oor watter artikels gekoop moet word, en dit te vergelyk met soortgelyke artikels. Leer jou kind so vroeg moontlik om te spaar, al is dit in die vorm van ’n spaarvarkie waar jy vir hom ’n paar rand se rente maandeliks betaal. Later, wanneer hy/sy ouer is, kan hulle self ook verskillende spaaropsies en beleggingsprodukte begin ondersoek. Skuld is sleg; dit moet enige jong mens so gou moontlik besef. Bly weg van kredietkaarte en persoonlike lenings waar moontlik en spaar vir deposito’s vir ’n huis en motor.

Laastens, maak seker jy weet op watter webblaaie jou kind ingaan en dat daar geen persoonlike inligting op die webblaaie uitgedeel word nie.
Natuurlik moet daar ook NIKS aanlyn gekoop word nie.

No posts to display