Ma se gebed word verhoor

0
Ma se gebed word verhoor
Jeremy Barnard (21) in die rehabilitasiesentrum waar hy besig is om aan te sterk.

Ongeveer twee maande gelede het die Barnard-gesin van Bloemfontein se lewens onherroeplik verander toe hul 21-jarige seun, Jeremy, een Sondagoggend op die hoek van Nelson Mandelarylaan en Parfittlaan deur die bestuurder van ‘n bakkie van sy motorfiets gestamp is.

Hoewel dié voorval hul lewens tot stilstand laat knars het en Jeremy se tyd in die hospitaal hul geloof behoorlik getoets het, het hulle onwrikbaar bly glo dat hul seun eendag uit sy hospitaalbed gaan opstaan.

Rouvé Barnard, Jeremy se ma, het na die ongeluk in ‘n onderhoud aan Bloemfontein Courant gesê sy glo haar seun gaan opstaan. Dié wens van haar is vinnig besig om waar te word. Jeremy is pas van die Pelonomi-hospitaal na die Hillandale-hospitaal oorgeplaas vir rehabilitasie.

Barnard het gister besonderhede van die pyn wat hulle die afgelope twee maande as ‘n gesin deurgemaak het met Courant gedeel. Sy sê die aand van Jeremy se ongeluk is ‘n aand wat hulle as ouers vir ewig sal onthou.

“Ons weet vir ‘n feit dat God se beskermende hand die eerste aand al oor hom was, want dis ‘n wonderwerk dat hy nie eens ‘n been gebreek het in daardie geweldige slag nie. Daar was baie hartseerdae en die verlange was baie keer so groot dat dit fisieke pyn veroorsaak het.

“Jeremy is deur 3½ weke in die neuro-hoësorgeenheid van die Universitas-hospitaal en 3 weke in die hoësorgeenheid van die Pelonomi-hospitaal. In dié tyd is hy met voedingspype aan die lewe gehou tot sy verjaardag op 9 Julie toe hy joghurt en groente-smoothies begin eet het.”

Barnard sê Jeremy kon aanvanklik net kommunikeer deur sy oog te knip. Hy kon glad nie sy hande gebruik nie, en was dikwels nie regtig bewus van hul teenwoordigheid nie. Maar daar is groot dankbaarheid by die gesin dat Jeremy weer op die herstelpad is.

“Sy geheue is by tye nie 100% nie en dit gaan nog weke, dalk maande se fisioterapie vat terwyl hy weer leer loop, hoe om sy lyf om te rol, en die gebruik van sy regterhand herwin. Maar komende Vrydag (more) is hy al twee weke in die rehabilitasiesentrum en hy doen al soveel beter.

“Die trageapyp is uit en hy het verlede week bietjie begin praat, al kan hy nog nie ‘n volledige gesprek voer nie. Hy het nog ‘n lang pad na herstel, maar sy woordeskat verbreed elke dag. Die klein dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, soos om ‘n bottel na jou mond te bring om te drink, of jouself te voer en die badkamer te gebruik, gaan hy nog moet leer bemeester.”

Barnard sê hulle vertrou steeds dat God Jeremy volkome gesond gaan maak. Sy sê die gesin het ‘n ongelooflike hoeveelheid liefde, ondersteuning en gebede ontvang, waarsonder hulle nie deur die beproewing sou kon kom nie.

“Dit sal nog lank vat voor hy kan terugkeer werk toe, maar ten minste weet ons hy sien uit daarna. Hy het verlede week gesê hy het sy skootrekenar nodig, en Maandagaand gesê hy gaan die volgende middag ‘n advertensie maak wat sy werkgewer vir bemarking kan gebruik,” het Barnard afgesluit.

‘n Fonds is intussen gestig om te help met Jeremy se hospitaalonkoste. Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak, kan dit doen op https://gogetfunding.com/hit-and-run-survivor-in-critical-care/.

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za

No posts to display