Lynette Francis kom vir Heidedaller

0
1722
Lynette Francis

Die gewilde nuusleser, joernalis en TV- en radiopersoonlikheid, Lynette Francis, sal as seremoniemeester optree by vanjaar se Heidedaller van die Jaar-geleentheid, wat op Saterdag 18 November 2017 by die Hotelskool op die kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie gehou word
Francis voel gevlei dat die organiseerders uitgereik het na haar, veral met die viering van ‘n dekade. “Dié tipe erkenning deur die gemeenskap vir die gemeenskap is ‘n wonderlike aansporing en sê geen goeie daad gaan ongesiens verby nie. Ek is bly ek kan deel wees van die aand.”
Baie kykers van SABC2 se program, Fokus, en die half sewe nuusprogram sal sien dat Francis baie ernstig is oor haar werk, maar tog ken hulle haar ook as die aanbieder van Praat Saam op RSG en weet dat jy na gelang van die werk jou persoonlikheid aanpas, maar dit is nog steeds jy. “Op televisie en radio werk jy met tyd en mense, dieselfde by ‘n geleentheid. Ek vertel nie ‘grappe’ nie, maar jy sal maar jou kaartjie moet koop en self kom kyk!”
Sy is darem nie Bloemfontein-sku nie. “Ek het ‘n maatskappy, Milagro Media, en doen ook ander werk wat reis behels, Bloem ingesluit. Die burgemeester kan vir eers die verwelkomingsbaniere bêre, tensy Heidedal ‘n blaasorkes en trompoppies het wat uithaal en wys,” lag Francis.
Sy voel mense moet in ‘n kaartjie belê om eer te gee aan mense wat die gemeenskap opbou, oplig en inspireer en die tiende jaar van die groot geleentheid saam te vier. “Sorg dat jou selfoonbattery gelaai is en dat jy lugtyd het as jy live wil Facebook of foto’s wil neem. En 10 jaar vra mos vir ‘n bietjie bling, of hoe?”
Belangstellendes kan reeds hul tafels en individuele kaartjies vir die geleentheid bespreek deur Levert Solomons (078-573-9746) of Rachel Scott (0833-880-773) te bel. Tafels kos R2500 vir 10 gaste en individuele kaartjies kos R250 elk.
Die Hotelskool het goedgunstiglik aangebied om as borgskap die galadinee in die Atrium op die kampus aan te bied met een van sy voormalige lektore, Suné Nieman van Upper Crust, wat die kos gaan voorberei.
Gaste kan dus uitsien na ‘n driegangmaal uit die boonste rakke, voorberei deur een van die land se voorste koskenners.
Prof. Francis Petersen, nuutaangestelde rektor en visekanselier van die Vrystaatse Universiteit, is vanjaar die hoofspreker op die galadinee van Heidedaller van die Jaar. Prof. Petersen, ‘n vorige adjunk-visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, het uitgebreide ondervinding in bestuur in sowel die universiteit- as die sakesektor. Hy dien op verskeie plaaslike en internasionale, tegniese, redaksionele en advieskomitees en het al meer as 150 tegniese lesings in internasionale joernale gepubliseer.

Jeretha Oosthuizen 
jeretha@mahareng.co.za