Lyk van vermiste Bloemfonteinse vrou glo gevind.

0
2749
Natasha Mans
Die lyk van die vermiste Bloemfonteinse vrou, Natasha Mans, is na bewering in ‘n veld gekry nadat sy bykans twee weke gelede spoorloos verdwyn het.

Volgens inligting is haar lyk gekry naby die huis in die Groenvlei-gebied buite die stad, waar sy saam met haar vriend, met wie sy in ‘n romantiese verhouding was, gebly het.

OFM-nuus verneem die polisie is tans op die toneel. Die polisie se woordvoerder, Wendy Nkabi, het nog nie op OFM-nuus se navraag gereageer nie. Nkabi het wel vroeër aan OFM-nuus gesê Mans het vanjaar op 31 Mei dié huis met haar vriend se vuurwapen verlaat. Sy het ook ‘n brief agtergelaat waarin sy haar familie ingelig het dat sy weggaan.

Volgens inligting is daar aanvanklik beweer Mans het met haar vermoorde tienerdogter, Noeline Koekemoer se ‘as’ verdwyn, maar die ‘as’ is na bewering later in die huis in Groenvlei gevind. Koekemoer is drie jaar gelede in Bainsvlei, buite Bloemfontein, waar sy toe saam met haar ma (Mans) gebly het, verkrag en vermoor.

Christal-Lize Muller – OFM Nuus