Mei is Internasionale Lupus Bewusmakingsmaand. Courant het meer oor hierdie siekte gaan uitvind en ook met ‘n ma gepraat wie se dogter met Lupus gediagnoseer is.
Wat is Lupus?
Sistemiese Lupus Eritematose, of kortweg Lupus, is ‘n outo-imuun siekte. Jou imuunstelsel wat jou liggaam in staat stel om weerstand te bied teen infeksies funksioneer foutief en val gesonde liggaamsweefsel aan.
Wat veroorsaak Lupus?
Daar is geen enkele oorsaak van Lupus nie. Dit wil voorkom asof dit weens ‘n kombinasie van faktore voorkom, wat infeksies, omgewingsfaktore, die hormoonbalans van die liggaam en genetiese faktore insluit. Wanneer jy Lupus het, kan jou liggaam nie onderskei tussen jou eie weefsel en indringers, soos virusse en bakterieë nie. Jou immuunstelsel begin om jou eie liggaam aan te val. In ernstige gevalle kan dit lewensbedreigende gevolge hê. Daar is twee hooftipes Lupus. Een, Diskoïde Lupus, tas net die vel aan, terwyl die ander, Sistemiese Lupus, die gewrigte en inwendige organe aantas.
Wat is die simptome van Lupus?
Die simptome van hierdie siekte wissel van pasiënt tot pasiënt. Omdat dit so verskil, is dit baie moeilik om te diagnoseer. Lupus kan verskillende siektes naboots. ‘n Paar simptome sluit in:
- ‘n Skoenlapper-vormige uitslag oor die neusbrug en wange.
- Groepe sere aan die eenkant binne jou neus en mond.
- Pyn net aan die een kant van jou lyf wat met tye jou hele lyf oortrek.
- Koue, gevoellose hande wat wissel van wit, blou en rooi van kleur a.g.v. bloedsomloopprobleme.
- Ontblote dele van die vel is abnormaal sensitief vir sonlig.
- Een van die mees algemene en moeilik hanteerbare kenmerke van Lupus is moegheid.
- Haarverlies.
- Geswelde, pynlike gewrigte wat nie misvorming van gewrigte veroorsaak soos in die geval van rumatoïede artritis nie.
‘n Groot groep lyers se simptome is moegheid, gewrigspyne en veluitslag, maar by ander ontwikkel daar ‘n ernstiger vorm van die siekte: Die aantasting van die niere, brein en senuweestelsel, hart, longe, endokriene stelsel, bloedvatstelsel, ens, kom by ‘n kleiner groepie pasiënte voor. In sommige gevalle kan dit lewensbedreigend wees.
Wat is die behandeling vir Lupus?
Daar is geen genesing van Lupus nie. Die behandeling wissel van pynmedikasie, steroïede en chemoterapeutiese middels. Min navorsing is tot dusver beskikbaar oor hierdie siekte. Daar word soms middels op die oorsese mark geplaas wat suksesvol is vir ‘n sekere groep lyers. Dit is egter peperduur en sommige is nog nie in Suid-Afrika goedgekeur nie.