‘Luister’ na Jacobus Silwer se nuwe liefdeslied

0
1079
Jacobus Silwer FOTOS: FRANCOIS SLABBERT/PALM PHOTOGRAPHY

Sanger, liedjieskrywer, beeldhouer, kunstenaar en vetplantverslaafde, Jacobus Silwer, het sy aanhangers met iets heeltemal anders verras. Silwer het onlangs sy eerste liefdeslied, ‘n lied belaai met betekenis en geskryf vir sy vrou, Lizzie, vrygestel. Silwer vertel sy nuwe lied is ‘n vermenging van genres op klaviernote, met min woorde.

Lizzie Silwer

“Ek het oudergewoonte in my musiekbinnekant aan die jeuk gegaan en in molle en kruise begin dink, maar dié keer, vir die eerste keer voor ons 1878-klavier gaan sit. Gewoonlik sou ek dadelik die kitaar gryp en begin drukke soek, maar hierdie keer was dit anders. Ek wou ‘n lied skryf wat met so min as moontlik woorde die meeste sê. Ek het met enkelnote begin en toe die akkoorde bygevoeg, woorde het begin vloei en 45 minute later is “LUISTER” gebore! ‘n Boodskap vir my vrou, Lizzie. Ek dink dis die woorde wat elke mens wil hoor – jou naam beteken vir my LIEFDE,” sê Silwer.
Aanhangers kan uitsien na die musiekvideo wat opgeneem is deur Francois Slabbert van Palm Photography en volgens Silwer, sonder twyfel die beste video is wat hulle nóg gedoen het.

Jacobus en Lizzie

“Luister” is die sewende enkelsnit deur Silwer geskryf. Hy pas sy growwer stem aan om by “Luister” se intieme, sagte intensiteit in te pas. Die lied is vervaardig deur Mauritz Lotz, opgeneem deur Peter Aurett, geredigeer en vermeng deur Johan Rautenbach met Jaconel Mouton op klavier en Dennis Lalouette op baskitaar. Die viole en tjello’s is ook lewend opgeneem.

Volgens Silwer is selfs Coenie de Villiers baie beïndruk met “Luister”. Die snit is reeds beskikbaar op alle aanlyn-platforms en is heeltemal gratis. Wees op die uitkyk vir die nuwe musiekvideo. Vir meer, besoek Jacobus Silwer se Facebook-blad.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za