Louis se wonderwerk gebeur

0
Louis se wonderwerk gebeur

Owen Kock

Na aanleiding van ‘n berig in verlede week se uitgawe van Courant, behoort elke leerling van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein teen volgende week hierdie tyd ‘n splinternuwe Bybel te hê.
Louis van Schalkwyk (16), met wie Courant verlede week oor sy droom om vir elke leerling in die skool ‘n Bybel te gee gesels het, het binne twee weke genoeg geld ingesamel om 1200 Bybels te bestel.
Die bestelling is reeds (Dinsdag) geplaas en Van Schalkwyk hoop om teen volgende Woensdag (23 Julie) die Bybels aan die leerlinge uit te deel. Nog net so beskeie soos met sy eerste Courant-onderhoud het Van Schalkwyk ewe skaam gesê, "Nes ek jou laas gesê het, ek glo mos in wonderwerke, en nouja, toe gebeur dit."
"Ek moet egter sê die blootstelling wat ek in Courant gekry het, het beslis gehelp dat ek die geld so vining kon insamel. Mense wat met my kontak gemaak het, het juis na die berig in julle koerant verwys en die res is geskiedenis," het Van Schalkwyk trots gesê.
Wat min mense egter weet, is dat die begeesterde Van Schalkwyk behoorlik die strate ingevaar het om geld in te samel. Hy het ook by verskillende besighede in die stad om hulp gaan aanklop.
Toe Courant die eerste keer met dié jongman gesels het, het dit ook aan die lig gekom dat van sy vriende ingestem het om saam met hom langs die straat te staan om geld in te samel, maar die oggend toe dit moes gebeur, het hulle kop uitgetrek.
Die bestelling vir die eerste 1200 Bybels (dis hoeveel leerlinge daar in die skool is), is geplaas en Van Schalkwyk is nou so opgewonde soos ‘n kind wat ‘n Kerskgeskenk moet oopmaak.
"Ek het geweet dat ek die geld in ‘n kort tyd sou bymekaarmaak, want ek is mos ‘n gelowige mens. Die feit dat dit wel gebeur het, is ‘n onbeskryflike gevoel, dit sal altyd so wees," het hy met deernis in sy stem gesê.

owen@centralmediagroup.co.za

No posts to display