Loop die Sabbatsreis van bevryding met Zelna

0
1665
Zelna Swart

“Ek het die pad van verwerping en verslawing met gevolglike erge oorgewig, vir baie jare gestap.”

Dit was die rede vir Zelna Swart se boek, Sabbatsreis, wat sy op 23 Junie bekendgestel het. Dié professionele verpleegkundige het al baie in haar lewe met negatiewe emosies, veral teenoor kos, geworstel. “Daar was nie ‘n dieet wat ek nie probeer het nie; dit sonder enige sukses. Drie jaar gelede het ek bewus geraak van al die negatiewe emosies waarmee ek worstel en wat gemaak het dat ek nie blywend kon gewig verloor nie,” vertel sy.

Die antwoord op haar vrae was om sover as sestig jaar terug op haar lewenspad te stap ten einde te begin om al die negatiewe emosies te verwerk en sodoende bevryding van kos en eetverslawing te kon beleef.

Volgens ‘n resensie deur Driekie Grobler is die boek ‘n eerlike, opregte, uit-die-hart vertelling oor diep gevoelens en emosies wat meeste mense al deur hul lewe ervaar het, of dalk nog steeds ervaar of mee worstel. “Die boek is beslis ‘n moet-lees vir elke mens wat seerkry beleef het en worstel met die newe-effekte daarvan. Dit dien ook as hulp vir mense wat worstel met verslawing, hetsy drank-, dwelm- of kosverslawing, wat eintlik maar net die simptoom is van dieperliggende seerkry en onverwerkte emosies. Die boek word hoogs aanbeveel vir rehabilitasiegroepe en as hulpmiddel vir beraders.”

Swart sê, “My roeping en passie is om emosionele ondersteuning aan mense met ‘n gewigprobleem te bied en deur praatjies, ondersteuning en met Sabbatsreis, mense te motiveer en te help om die pad van bevryding van oorgewig te begin stap.”

JERETHA OOSTHUIZEN

jeretha@mahareng.co.za