‘Lonely Together’ bring hoop vir Bfn-gesinne

0
316
Bani en Chantelle Lotz saam met Zion (wat hierdie jaar 5 word) en sussie, Lynneve.

Bloemfonteinse gesinne was onlangs deel van ‘n groep van 18 families uit Suid-Afrika, Amerika en Nigerië wat aan ‘n baanbrekende projek genaamd Voice of the Speechless (VOS) deelgeneem het.

Die VOS neem die klanke in die omgewing van kinders met spesiale behoeftes op, dokumenteer dele van hul reis, en vang hul stories vas in liedjies en musiekvideo’s. Die doel hiervan is om aan mense ‘n kykie te gee in die wêreld van die spesiale behoeftes van nie-verbale kinders uit verskeie agtergronde en lande.

As deel van die VOS-projek het Suid-Afrikaanse musikant, komponis, liedjieskrywer, Jana Viljoen, ook bekend as Ziya, het die afgelope week ‘n nuwe liedjie, “Lonely Together”, vrygestel waaraan die Bloemfonteinse gesinne ook deelgeneem het.

Ziya, wat vier kinders het van wie drie spesiale behoeftes het, is ook medestigter van die Brain Child-fonds, ‘n nie-winsgewende organisasie wat gesinne met kinders met spesiale behoeftes bedien deur onderrig, ondersteuning en bewusmaking.

Leshana Henning en haar 7-jarige seun, Henrikus, was deel van “Lonely Together”.

Bloemfontein Courant het met twee van die gesinne gepraat oor hul ondervinding. Leshana Henning, wie se seun, Henrikus (7), blind gebore is, het verduidelik hul insetsel was deel van hul daaglikse roetine en dat dit kosbaar vir hulle as gesin was. Sy het gesê dat die projek hoop, bystand en bemoediging versprei terwyl daar na ander uitgereik word sodat hulle kan weet hulle is nie alleen nie.

Die Lotz-gesin se seun, Zion (4), is op nege maande met ‘n nie-kwaadaardige breingewas gediagnoseer (waarvan meeste verwyder is). Hy slaap met ‘n ventilator en kry buisvoeding. Vir dié gesin was dit goed om aan VOS deel te neem omdat hulle deel voel van ‘n gemeenskap van gesinne en vriende wat deur dieselfde omstandighede en situasies gaan, het Chantelle Lotz het aan Bloemfontein Courant gesê.

Ziya het verduidelik dat “Lonely Together” die eerste is in ‘n reeks is waarmee sy besig is. Dit is deel van ‘n visuele program, en die hoogtepunt van die projek sal ‘n kort dokumentêre program wees.

“Lonely Together” kan gesien word op: https://youtu.be/64xwEiSEE9M.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za