Literêre ikoon word tydens UV se somergradeplegtigheid vereer

0
654

Op Donderdag 5 Desember 2013 sal die Universiteit van die Vrystaat (UV) meer as 300 grade en kwalifikasies toeken tydens die somergradeplegtigheid op die Bloemfontein-kampus.
Die gradeplegtigheid sal gedurende twee seremonies in die Callie Human-sentrum plaasvind, waar magister en PhD-grade tydens die eerste seremonie om 10:15 toegeken word en diplomas, sertifikate en voorgraadse kwalifikasies om 14:30 aan studente van die Skool vir Oopleer en die Fakulteit Gesondheidswetenskappe.
Die skrywer, dr Zakes Mda, word ook vereer met ‘n eredoktorsgraad van die UV tydens die oggendseremonie.
Dr Mda is ’n Suid-Afrikaanse literêre ikoon en ’n openbare intellektueel met buitengewone plaaslike en internasionale invloed. Hy het gedurende die afgelope 40 jaar ‘n merkwaardige lys van prestasies opgebou. Hy is ‘n romanskrywer, dramaturg, digter, musikant en skilder en tree ook op as onderwyser, akademikus en byeboer. Hy is bekend vir sy romans Ways of Dying (1995), Heart of Redness (2000), The Madonna of Excelsior (2002), The Whale Caller (2005) en Black Diamond (2009). Sy mees onlangse roman is The Sculptors of Mapungubwe (2013). Sy talle toekennings sluit in ‘n Statebond-skrywersprys, die M-Net-boekprys en die Sunday Times Fiksieprys.
Die Springbok-rugbyspeler, Jannie du Plessis, sal graduandi tydens albei seremonies toespreek.
Om 14:00 in die Albert Wessels-ouditorium vandag bied die Departement Engels by die Bloemfontein-kampus ‘n gesprek aan met Dr. Mda. Mda, wat allerweë erken word as een van die voorste letterkundige denkers van ons tyd, is tans professor in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Ohio in die Verenigde State.