Literatuurfees oop vir alle boekliefhebbers

0
639
PHOTO: iStock

Die Vrystaat Literatuurfees nooi alle boekliefhebbers om deel te wees van die nuutgeskepte Vrystaat LiteratuurfeesFacebookgroep. Hierdie inisiatief maak ook deel uit van die Literatuurfees se heel eerste digitale aanbieding van die boekfees.

Volgens die organiseerders van die fees is die Vrystaat Literatuurfees genoop om weens die Covid-19-pandemie die gebruiklike werkswyse aansienlik te verander, maar hulle is steeds opgewonde oor almal wat nou die program kan besigtig en daaraan kan deelneem. “Almal is welkom – Bloemfonteiners, Vrystaters en Suid-Afrikaners van oraloor!”

Die Vrystaat Literatuurfees is in 2016 gestig as ‘n vennootskap tussen die Universiteit van die Vrystaat en die Vrystaat Kunstefees. “Hierdie boek-en-skrywersfees is vandag ’n sleutelgeleentheid op die Suid-Afrikaanse literêre kalender. Die literatuurfees lewer ’n belangrike bydrae tot die bevordering en groei van ’n dinamiese en robuuste leeskultuur in die Vrystaat,” sê die organiseerders.

Met die fees word plaaslike, nasionale en internasionele skrywers en digters utgenooi, en die skrywersprogram betrek jaarliks boekgesprekke en -bekenstellings, langtafelgesprekke, digkunsvoorlesings en-optredes, slypskole vir opkomende skrywers, lesings, films en bustoere. Benewens SuidAfrikaanse deelnemers, word skrywers en digters vanaf die Afrika-kontinent, Australasië, Europa en Noord-Amerika genooi om aan die fees deel te neem.”

Die program vir die digitale gebeurtenis word op 29 September bekendgestel en belangstellendes kan ‘n oog gooi op die fees se Facebookblad @vrystaatkunstefees en ook hul webtuiste www.vrystaatkunstefees.co.za dophou vir meer inligting.

Die skakel na nuutgeskepte Vrystaat LiteratuurfeesFacebookgroep is www.facebook.com/groups/281859706847483.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za