Lani Fouché
Die Four Paws diereliefdadigheidsorganisasie het onlangs ses nuwelinge by Lion’s Rock Big Cat Sanctuary buite Bethlehem verwelkom. Twee volwasse leeus, hul twee welpies en twee volwasse tiers is uit ‘n dieretuin in Romenië gered en het Donderdag by hul nuwe tuiste in die Vrystaat aangekom. Dié groot katte het sedert hul geboorte in donker, koue hokke by die dieretuin gewoon en nog nooit gras, son of oop vlaktes gesien nie. Die dieretuin het sy lisensie verloor om wilde diere aan te hou en sedertdien is dié diere erg verwaarloos en ondervoed gelaat.
“Die burgemeester in die gebied waar die dieretuin geleë is, het Four Paws International se hulp ingeroep toe hy sien in watter haglike omstandighede die leeus en tiers moet leef. Ons het ingestem om hulle na Suid-Afrika te bring waar hulle gesond kan word en in hul natuurlike habitat kan lewe,” het Fiona Miles, woordvoerder vir Four Paws, gesê. Sy sê die twee welpies was só siek en ondervoed dat hulle soos twee maande oue welpies gelyk het eerder as agt maande leeutjies, wat hul werklike ouderdom is. Hulle ly ook aan ’n rare kondisie wat normale beengroei affekteer. “Dit is ‘n resultaat van inteling, omdat daar geen kontrole oor teling by die betrokke dieretuin was nie,” vertel Miles.
Die vier diere moet nou stelselmatig gewoond raak aan hul natuurlike habitat. Eenvoudige elemente soos sonskyn en grond is nog vir hulle vreemd. Miles sê: “Die belangrikste is nou dat die leeus saam as ’n familie hierdie veranderinge kan deurmaak – so ook met die tiers. Dit was ’n baie emosionele ervaring om hulle by Lion’s Rock vry te laat. Hulle was eers baie onseker, maar ons glo hulle gaan baie gelukkig hier by ons bly.” Daar is nog 26 dieretuine in Romenië waar dringende ingryping nodig is. Miles sê planne om die nodige versorging aan diere in hierdie dieretuine te bied en hulle te verwyder indien nodig, is reeds in ’n uitvoerbare stadium. Lion’s Rock is net buite Bethlehem geleë en sien om na groot katte wat uit ongunstige omstandighede gehaal is. Hierdie diere kan gewoonlik nooit weer een honderd persent in hul natuurlike habitat oorleef en jag nie, daarom word hulle in groot kampe aangehou en versorg. Four Paws het reeds 90 leeus en tiers uit haglike omstandighede in Afrika, Europa en Asië gered en na Lion’s Rock gebring. Hulle geniet steeds die aandag en versorging van die kundiges by Four Paws International.
lani@centralmediagroup.co.za