Ligte, kamera, aksie… die UV se filmskool is hier

0
1102

OWEN KOCK

Na drie jaar se beplanning en harde werk open die Universiteit van die Vrystaat Maandag sy eie filmskool op sy Bloemfontein-kampus.

Volgens prof. Nico Luwes, wat aan die stuur van sake is, neem die interdissiplinêre honneurskurus op 2 Februarie ‘n aanvang en verskeie klasse vorm deel van die kursus. Hy meen die keuring van die agt studente was nie moeilik nie, aangesien van hulle drama-studente by die universiteit is.

Een van die groot trekpleisters van die kursus is ongetwyfeld die oud 7de Laan-akteur Chris Vorster, beter bekend vir sy rol as die boekwinkel-eienaar en skrywer, Ryno Lategan. Hy is tans nog in Gauteng, maar sluit hom op 2 Februarie by die filmskool aan.
Vorster het laat verlede jaar aan Courant gesê hy is baie opgewonde om na Bloemfontein te kom. Sy gesin is reeds tuis in die Rosestad.

"Kyk, ons het amper drie jaar daaraan beplan en uiteindelik gaan ons begin. Wat die kursus besonders maak, is die sterk akademiese ondergrond. Alles is nie net prakties nie.

"Dit gaan oor hoe om films te maak, hoekom ons films maak en die grondbeginsels van goeie films," het Luwes bygevoeg.
Vorster behartig die geskiedenis van film, Joanette Kriel die visuele kunste, terwyl Annie van den Oever, Ansia van Jaarsveld en Heleen Strauss gas-dosente by die filmskool sal wees.

Luwes voeg by dat die digitale era verantwoordelik is vir ‘n oplewing in die Suid-Afrikaanse filmbedryf, maar die kwaliteit van die films speel steeds ‘n groot rol. Hy het die oplewing in die bedryf daaraan toegeskryf dat dit vandag nie meer so duur is om films te vervaardig nie en dit digitaal heelwat makliker gedoen word as in die ou dae toe film gebruik is.

"Daar’s beslis ‘n baie groot oplewing in die bedryf in Suid-Afrika. Dit hang natuurlik ook af van die kwaliteit. Daar is groot belangstelling onder die Suid-Afrikaanse publiek en hulle ondersteun die Afrikaanse flieks goed," het Luwes aan Courant gesê.

owen@centralmediagroup.co.za