Light Conversations adresseer ‘duisternis’

0
416
Karin Jaroszynska, The Helsinki series, the yo-yo tree Aquatintdrypoint-skets

Met kunswerke uit die museum se permanente versameling, het die Oliewenhuis-kunsmeuseumgidse in Bloemfontein ‘n uitstalling saam gestel wat onkonvensioneel in benadering is.

Die publiek kan vandag om 19:00 ‘n kykie kry van Light Conversations, en deel wees van ‘n begeleide toer. Die uitstalling duur tot 7 April 2019.
Hierdie ‘kunstenaarbreine’ het ‘n uitstalling geskep waarin hulle op eerlike wyse die uitdagings deel van jong en opkomende kunstenaars soos hulself in hul strewe na sukses in die wêreld en die kunsomgewing.

Malcolm Payne (geb. 1946), Face Value Old Heads in Modern Masks, Breath of Life-skets

Oliewenhuis sê in ‘n verklaring dat die kurators resoneer met kunswerke van erkende kunstenaars soos Dumile Feni, Pippa Skotnes, Norman Catherine, Judy Woodborne en Lucas Sithole, wat by uitsondering uitgestal word, om ‘n narratief oor te dra wat met die verskillende emosies wat die opkomende kunstenaar mag ervaar, geassosieer kan word.

“Die kurators verstaan en ondervind self die probleme en twyfel wat deur hulle aangespreek word in Light Conversations, en kies gevolglik om in die uitstalling te fokus op die reis van ‘n kunstenaar. Om te fokus op die skepper van kunswerke en nie sy of haar produkte nie, is om ‘n gesprek te ontlok oor ‘n onderwerp wat, hoewel skaars ooit verder bespreek as die oppervlak, onverwags laag op laag ontbloot word.

“Kunstenaars moet nie net aanpas by die uitdagings van die lewe ná universiteit soos hul eweknieë nie, maar ook die ekstra druk ervaar van geen waarborg van werk in hul studieveld nie. Hulle leef met verskillende vrese: die mislukking om hul talente te gebruik of ‘n verlies aan kunstige integriteit indien hulle sou besluit om in te koop in sukses deur hul stem en uitsig te verberg om in te pas in die kunsomgewing,” lui die verklaring.

Toegang is gratis en verversings sal bedien word. RSVP by 051-011-0525 (bylyn 200) of oliewen@nasmus.co.za. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za