Die tweede slagoffer se liggaam is binne twee dae deur nooddienste uit die diep watermassa langs die gevaarlike R30-pad tussen Allanridge en Bothaville in die Vrystaat gehaal.
Volgens 1life911-nooddienste het dié berugte pad Sondag én Maandag lewens geëis, berig OFM-Nuus.
Ten spyte van bewerings dat die pad gesluit is, word daar berig dat motoriste die padtekens steeds ignoreer.
Die water weerskante van die pad is deur die nooddienste as diep en gevaarlik beskryf. Hulle het Maandag die jongste slagoffer se liggaam uit dié diep water gehaal.
Die R30-pad was onlangs herhaaldelik in die kollig nadat OFM-nuus berig het dat talle padgebruikers dood of beseer is weens verskeie ongelukke. Dit het eindelik tot die sluiting van die pad gelei.
Die Vrystaatse LUR vir Vervoer, William Bulwane, het in April gesê die departement sal in die huidige, nuwe finansiële jaar voorkeur aan dié berugte pad gee.