ALZANE NARRAIN
Die jaarlikse Checkers Ko’s Kuierfees is nog net twee dae weg, maak seker dat jy nie vanjaar op dié besonderse fees uitmis nie. Die fees vind op 31 Mei en 1 Junie by die Bloemfontein-skouterrein plaas en beloof om die winterkoue te verdryf met sy vuurwarm atmosfeer. Die fees gee vanjaar besoekers weereens die ideale geleentheid om al Checkers se bekende produkte te proe en om te sien waarom Checkers net die beste produkte op sy rakke het. Een van die fees se hoogtepunte is die voorbereiding van smullekker geregte deur die bekende sjef, Suné Niemand. “My hele lewe bestaan daaruit om kennis oor te dra. Dit is dan ook wat vir my lekker is met so ‘n kosdemonstrasie; ek werk met ‘n groeiende produk. Dit is vir my lekker om mense in te lig, want daar is baie mense wat geregte wil maak, maar nie weet waar om te begin nie,” verduidelik sjef Niemand. Die spyskaart sluit wildsvleis, brood, pasta, kaas en wyn in. Die gehoor sal ‘n kans hê om vrae te vra en die resepte te bespreek. Vrydag se eerste demonstrasie skop af met wildsvleis en wyn. “Ek dink baie mense wil graag met wildsvleis werk of het wildsvleis in hul vrieskaste, maar weet nie altyd wat om daarmee te doen nie. So ek gaan vinning praat oor hoe mense wildsvleis kan gaarmaak en wat anders ‘n mens daarmee kan maak.” Volgens sjef Niemand het Saterdag dan twee demonstrasies wat brood, kaas en wyn insluit. Later die aand kan die feesgangers meer leer oor pasta en wat ‘n mens alles anders as spaghetti bolognese kan maak. “Ek gaan nét Checkers-produkte gebruik om die gehoor stap-vir-stap te wys hoe om al die lekker geregte te maak. Daar gaan genoeg porsies wees vir mense wat daarvan wil proe,” sê Niemand. As sjef Niemand jou nog nie inspireer het nie kan jy jou eie slag gaan wys deur in te skryf vir die gewilde potjieskos-kompetisie. Kry drie van jou vriende bymekaar en skryf in teen R500 per groep. Checkers sal ook alle vleis en groente verskaf wat benodig word vir die potjiekos-kompetisie. Vir die wat net wil kuier sal daar hope vermaak wees waaronder Zak Steyn en Francois Bouwer as gaskunstenaars. Onthou om ook jou beursie saam te bring, want daar sal talle produkte te koop aangebied word. Kom geniet ‘n onvergeetlike naweek van kos en plesier by die Checkers Ko’s Kuierfees. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en beloop R100 per persoon. Kinders onder die ouderdom van 18 word nie toegelaat nie