Lefra Produksies bring ‘n splinternuwe Liewe Heksie-verhoogproduksie na Bloemfontein. Die produksie vertoon van 8 tot 12 Julie in die Andre Huguenet-teater. Die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, is vanjaar boonop 80 jaar oud en glo dit as of nie, Liewe Heksie vier haar 50ste verjaardag. Lefra Produksies toer reeds die afgelope drie jaar oor die land heen met suksesvolle Liewe Heksie-produksies. Om Verna se verjaarsdag te vier, het regisseur Frans Swart haar oortuig om ‘n nuwe Liewe Heksie-storie – Liewe Heksie en die tuindwergie – te skryf.
“Ek wou nog altyd gehad het dat Heksie ‘n tuindwergie ontmoet,” sê Verna. Sy wou sien wat Heksie met die tuindwergie doen. Verna vertel dat Liewe Heksie nooit die hoofkarakter in die stories was nie. “Blommie Kabouter was eintlik die hoofkarakter wat in 1961 vir die eerste keer op Siembamba uitgesaai is. Ek het toe hierdie goeie heksie geskep.”
Swart, is ook baie opgewonde dat Verna die nuwe storie spesiaal vir hom geskryf en aan hom toevertrou het. “Liewe Heksie het deur die jare so ‘n groot invloed op my lewe gehad, want ek was kameraman op die Heksie-televisiereekse. Behalwe dat ek grootgeword het met Liewe Heksie, het Heksie in my hart kom inkruip met die televisiereekse.” Die nuwe produksie is vir hom ‘n wonderlike ontdekkingstog. “Dit was voorwaar soveel pret om aan Heksie te werk.”
Liewe Heksie en Botterblom, Blommeland se koei wat aan almal in die land melk voorsien word ook opgevoer. Botterblom is egter kwaad, want Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en sy raak baie eensaam. Dan begin die poppe, of is dit nou koeie dans.
Ana van Achterbergh vertolk die rol van speel Liewe Heksie. Ander spelers is Botha Enslin (Kwaaitjie Kabouter, Mattewis, Geelheks, Borrie, Griet en Karel Kat), Debré Rossouw (Blommie Kabouter, Koning Rosekrans en Kerrie) en Phillru van Achterbergh (Casper, die tuindwergie en Borrie). Frans Swart het die verhoogverwerking gedoen en is ook die regisseur.
Besprekings kan by PACOFS by 051-447-7772 gedoen word. Kaartjies is ook by Izami Florist by die Bays Village-koopsentrum en by BCF Micro Finance by die Kenworth Spar-sentrum in Rocklands beskikbaar. Vir groepbesprekings bel Monica by (011) 815- 3000 of epos na admin@lefra.com. Vir meer inligting, besoek www.lieweheksie.com.
VERKLARING