Lieflike Laventel

0
Lieflike Laventel

RISNA OPPERMAN

Kruie is ‘n bewonderenswaardige groep plante. Hulle ruik lekker, hulle vertoon goed en hulle is goed vir jou ligaam en siel. Laventel is sekerlik een van die gewildste (indien nie dié gewildste keuse nie) onder plaaslike tuiniers. Die naam “Lavender” kom van die latynse werkwoord Lavare wat beteken “om te was” of “om te bad”. Hoewel die meeste laventel plante uit die Meditereense area kom, kom dit ook voor in Noord-Afrika, Wes-Indië en die res van Europa.

Waar om te plant
Laventel se natuurlike omgewing is oop, droë en klipperige aarde. Hulle is waterwys, vaar die beste in die vol sonlig en hou van goed gedreineerde grond. Hoewel Laventel (soos alle plante) sal baat by goeie kompos (soos Earth to Earth Compost) hoef die grond nie té ryk te wees nie. Laventel hou glad nie van ‘n nat, bedompige klimaat nie en is geneig om gou vrot te word. Sommige soorte groei redelik uitspattig en moet in toom gehou word as dit in ‘n meer formele omgewing geplant is. Andersyds is dit ‘n plant wat min sorg verg. Die plante kan in die lente en herfs teruggesnoei word as dit stokkerig raak of in ‘n heiningvorm gesnoei moet word. Laventel kan ligte ryp hanteer en kan matige droogte hanteer. As ‘n gemiddelde reël is die gryser soorte meer gehard as die groener variëteite.

Ontwerp met Laventel

Laventel vertoon op sy beste in massas. Plant dit ongeveer 30cm uitmekaar as dit in ‘n heining gebruik word, andersins kan dit tot 60cm en verder uitgesprei word. Vir kontrastrerende loofkleur, plant ‘n ry roosmaryn (Rosmarinus McConnals Blue) met ‘n ry Engelse laventel agter. Blokke van verskillende soorte laventel skep ‘n eenvoudige, maar asemrowende effek. Vir ekstra geur, plant naby Roos Malvas – die plante se geur komplementeer mekaar baie goed.

Soorte

Daar is 48 spesies laventel bekend, met honderde subspesies. Die algemeenste laventel plante beskikbaar by ons is Lavandula Angustifolia of Engelse laventel – (ook “True Lavender”) Dit groei hoog en kan maklik een meter of selfs hoër groei. Dit dra nie ‘n oorvloed blomme nie, maar is uitstekend vir die knip van heinings en word ook gebruik om blomme te droog. Lavandula Dentata of Franse laventel is die variëteit wat die meeste blomme lewer. Hulle kan grys of groen loof hê en groei tot mediumhoog (ongeveer halwe meter). Dan is daar Lavandula Stoechas of Spaanse laventel wat korter en kompakter groei as die ander. Hulle blomme is gewoonlik aswemrowend en word op kort stele gedra. Die plante gryp die verbeelding van miljoene mense aan. Plant ‘n verskeidenheid om te bepaal watter een die beste sal doen in jou mikroklimaat en beplan dit dan as deel van jou droomtuin.

No posts to display