Liefde blom vir Bloem se Valentynspaartjie

0
580

Lani Fouché

“Ek het geweet ek gaan met hom trou die oomblik toe ek hom sien!” Talita van Rensburg – of eerder Talita Rautenbach soos sy reeds vir ’n maand heet – onthou blinkoog hoe sy môre presies ’n jaar gelede vir Alwyn ontmoet het. Dit was binne-in OFM se ateljee in Bloemfontein waar haar hart tjoklits geklop het met die eerste oogopslag van die donkerkopman. Hulle liefdesverhaal lees soos ’n storieboek.

Dié liefdesduifies het bekendheid verwerf toe hulle tydens Johrné van Huyssteen se middagprogram op OFM, Huistoe, op Valentynsdag 2012 aan ’n regstreekse liefdesprogram, Cupid, deelgeneem het. Drie meisies het agter ’n skerm gesit, terwyl een man (Alwyn) vrae aan hulle moes vra. Hy kies dan, op grond van hul antwoorde, ’n meisie wat hy op ’n afspraak sal uitneem. Hy het nié vir Talita gekies nie, maar sy het hom reeds in haar hart gekies.

Die volgende dag ontmoet dié twee mekaar vir ’n koffie by haar werkplek in Mediclinic Bloemfontein, wat via Facebook gereël is. “Van daar af was dit net… ja…” lag Talita. Nie minder nie as vier maande daarna staan hy op sy knieë en vra die groot vraag by
dieselfde koffiewinkel. “Ek het dit glad nie verwag nie! Hy het in die geheim vir my ’n tas gepak, en nadat ek hom die ja-woord gegee het, het hy my op ’n week-lange vakansie gevat. Dit was so romanties!” En net bietjie meer as ’n maand gelede het Talita en Alwyn ewige trou aan mekaar beloof.

Soos enige ander verliefde paartjie, het die Rautenbach spesiale liefdesgebare wat hul liefde vir mekaar meer en meer laat blom. “Hy maak elke aand vir my kos. My huis is soos ’n hotel – ek stap net in die aande daar in en dan vra hy vir my wat wil ek eet. Ek is so lucky!” Talita sit weer elke oggend Alwyn se klere vir die dag op die bed neer, “want hy weet nie altyd hoe om aan te trek nie. As hy self sy klere kies, lyk hy partykeer baie bont!” En as daar onmin in die Rautenbach-huishouding is? “Ons ken mekaar nog nie so lank nie – dalk eet ons nog baie sakke sout saam met mekaar op eendag. Maar vir nou baklei ons omtrent nooit – ons stry partykeer oor simpel goed soos of aliens bestaan.”

Omdat hulle mekaar nou eers presies ’n jaar ken, leer hulle nog elke dag iets nuuts van mekaar. “Ek het nooit geweet Alwyn is so ’n avonturier nie. Ek het altyd gedink hy’s stil en stemming, maar hy wou op ons wittebrood al wat ’n uitdaging is aanpak! Ek het ook nooit geweet hy is so goed met tuinmaak nie. Hy ken omtrent elke plant op sy naam.” Valentynsdag 2013 gaan vir hulle ’n ekstra spesiale dag wees, omdat hulle hul eerste ontmoeting gaan vier. Sonder om te veel uit die mou te laat, vertel Talita dat sy ’n romantiese skattejag vir Alwyn beplan, en dat hy ook iets in die mou voer. “Dis ’n groot dag vir ons – belangriker as al die ander herdenkinge. Ons het ooreengekom dat ons vir mekaar iets spesiaals sal doen – maar dit moet ’n verrassing wees. Ek kan nie wag nie!”

Op ’n vraag of hulle troetelname vir mekaar het, lag Talita skaam. “Hy noem my Bekkie. Ek noem hom sommer enigiets – elke keer iets anders!” En ja, ’n pienkvoetjie is in dié verliefde, pasgetroude paartjie se korttermynbeplanning…