‘Lia-Mari dra nou ‘n kroon’

0
1850
Willem Janse van Vuuren sê sy dogter, Lia-Mari, het altyd vir almal geglimlag en almal gegroet.

Pappa Willem Janse van Vuuren gesels met ‘n reuseglimlag oor sy blondekop dogtertjie, Lia-Mari (4). Sy gemoed is vol en die trane loop vryelik, maar die grootste gevoel wat oorbly nadat Lia-Mari verlede naweek oorlede is, is dié van vrede en vergenoegdheid.

“Lia was… anders. Na alles wat sy as baba moes deurmaak en al haar hospitaalbesoeke en maande in ICU, het sy die volste reg gehad om fobies te hê vir dokters, mense en sommer die lewe in die algemeen.

“Maar jy sal my nie glo nie, sy het altyd vir almal geglimlag en almal gegroet. Selfs wanneer ons moes gaan bloed trek, was sy vriendelik en dapper. Sy was gek oor ‘n pleister en die suigstokkie wat sy kon kry,” vertel Willem met Lia-Mari se gunstelingspeelding, ‘n sagte unicorn, in sy hande.

Lia-Mari en haar pa, Willem Janse van Vuuren.

Lia-Mari is Saterdagmiddag in die Mediclinic Bloemfontein se intensiewesorgeenheid oorlede weens longkomplikasies nadat sy ‘n virus opgedoen het. Sy het as baba ‘n leweroorplanting ontvang en is gebore met ‘n vernouing in haar dunderm. Sy moes elke dag immuunonderdrukkers neem, wat beteken het dat sy buitengewoon vatbaar was vir kieme.

“Ons het dit geweet. Lia was altyd fragile, en sou haar lewe lank wees. As baba was daar baie benoude oomblike wanneer ons gedink het sy gaan dit nie maak nie. Ons het toe die Here gesmeek dat ons haar asseblief net kan leer ken en haar stemmetjie kan hoor voordat Hy haar wegneem. En ons het. Vir vier jaar lank het ons ‘n vriendelike, laggende dogtertjie gehad met die mooiste persoonlikheid denkbaar,” vertel Willem.

“Dis moeilik om te verduidelik, maar sy was wys bo haar jare. Sy het kennis binne-in haar gedra wat genoeg was vir ‘n leeftyd. Sy het mense aangeraak op ‘n manier wat ek nie kan beskryf nie,” sê Willem. Hy onthou hoe ‘n vriendin hom en Lia-Mari eendag in Dis-Chem raakgeloop het. Lia-Mari was haar vriendelike self en het met ‘n breë glimlag die betrokke vriendin gegroet. “My vriendin het daarna met ‘n traan in haar oog vir my gesê dat sy ‘n baie slegte dag beleef het, en Lia haar onmiddellik laat beter voel het. En dís hoe sy was. Haar goedhartigheid en empatie was te veel vir hierdie wêreld. Sy is nou tuis. Sy dra nou ‘n kroon soos sy altyd wou.”

Lia-Mari se top-vyf-gunstelingdinge op aarde was: Roomys, ‘n speelpark, niggies en nefies, sjokolade en mooi rokkies.

“Lia was onvoorwaardelik lief. Sy het my ‘n beter mens gemaak. Sy het my meer oor die lewe geleer as wat ek ooit self kon leer. Dit was vir my die maklikste ding op aarde om haar pa te wees.”

Willem woon in Bloemfontein en is die eienaar van Flaming Fire Photography. Lia-Mari se mamma, Mari Janse van Vuuren, woon in Boshof. ‘n Gedenkdiens sal more (Vrydag) om 11:00 uit die NG Kerk Boshof gehou word. – Lani Fouché
lani@centralmediagroup.co.za