Leraar groet gemeente ná 38 jaar

0
1168
Ds Deon Potgieter

VGK Heidedal-Suid neem vanjaar met ‘n knop in die keel afskeid van hul leraar, ds Deon Potgieter, ná 38 jaar diens. Ds Potgieter, wat beskryf word as ‘n man met ‘n passie vir die Bybel, tree af ná ‘n leeftyd by dié kerk, wat ook hierdie jaar hul 40ste bestaansjaar vier.

Volgens ‘n gemeentelid Jackie Jacobs, het ds Potgieter selfs gedurende die grendeltyd “nooit tot stilstand gekom nie”. “Hy het elke Dinsdag en Donderdag ‘n sopkombuis in samewerking met Heatherdale Diakonale Dienste bedryf. Sop en toebroodjies is aan honderde kinders en selfs volwassenes voorsien.”

Met die vele rolle wat hy in die gemeenskap gespeel het, het hy onder meer sy liefde vir die natuur gedeel met die gemeente. Volgens Jacobs is daar hope bome en plante op die kerkterrein asook by vele gemeentelede se wonings geplant. Ds Potgieter is ook bekend vir sy speciale liefde en passie vir kinders, gestremdes, oumense en mense in nood en was hy volgens Jacobs altyd daar vir almal.

“Ons as VGK-gemeente HeidedalSuid sê dankie vir sy onbaatsugtige liefde,ondersteuning en omgee oor al die jare.” In ‘n onderhoud met Bloemfontein Courant vertel ds Potgieter dat sy tyd aan diens baie vervullend was maar ook met baie uitdagings gepaard gegaan het. “Ek kan terugkyk met groot dankbaarheid vir die geleentheid om die gemeenskap te kon bedien het oor hierdie tydperk,” sê hy.

Ds Potgieter laat die gemeenskap met Hebreërs 12:2 – om die oog gevestig te hou op Jesus vir die wedloop van die geloof wat vir ons voorlê. Ds. Dawid Kuyler, ‘n oudkollega, vertel dat hy aan baie woorde kan dink om ds Potgieter te beskryf omdat hy so ‘n veelsydige peroon is.

“Tog kies ek ‘Dienskneg van die Here ter wille van almal’ as my beskrywing. Deon het as dienskneg van die Here reeds vroeg gekies om bereid te wees om enige plek te gaan dien. So was hy vir twee jaar dosent aan die Justo Mwale Teologiese Kollege in Lusaka voordat hy weens gesinsuitdagings na Bloemfontein moes terugkeer.

As ek iets vir Deon kan sê wannneer hy die tuig neerlê, is dit: Deon, jy het goed en hard en lank gewerk. Rus nou en laat God die seën gee op jou arbeid. Geniet die dae wat voorlê en moenie jou bekommer oor die gemeente nie. Die Here sal voorsien.” En dan voeg ds Kuyler by, “Deon, kom kuier in die SuidKaap.”

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za