Legendariese liggaamsbouer verloor seun in ongeluk

0
705
Calvyn Fortuin en sy seun, Zane, op Zane se 21ste verjaardagpartytjie.

Die legendariese liggaamsbouer van Bloemfontein, Calvyn Fortuin, wat verlede naweek sy 80ste verjaardag saam met sy geliefdes by sy huis in Heidedal gevier het, het vanoggend sy 42-jarige seun aan die dood afgestaan nadat hy deur ‘n voertuig raakgery is.
Die 42-jarige Zane Fortuin, ‘n timmerman van beroep en ook Fortuin se jongste seun, is enkele meters van sy ouerhuis raakgery.

Calvyn Fortuin (80), spiertier van Heidedal. Foto: Pierce van Heerden

Zane se suster Nolene het hom beskryf as ‘n kalm en vriendelike mens. “Dit is ‘n groot skok vir ons as gesin en my pa vat dit regtig nie goed nie,” het sy aan Bloemfontein Courant gesê .

Fortuin Sr. wat oor die hele land heen bekend is vanweë die feit dat hy op ‘n rype ouderdom steeds die een liggaamsboukompetisie na die ander wen, het ook sy vrou twee en ‘n half jaar terug verloor. Die ongeluk het vanoggend omstreeks 11:00 in Heatherdaleweg in Heidedal plaasgevind. Dit is nog onduidelik wat presies op die ongelukstoneel gebeur het. Bloemfontein Courant het met die polisie in verbinding getree en wag nog op meer besonderhede.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za