Legendariese liggaamsbouer sterf

0
2333
Bekende liggaamsbouer, Calvyn Fortuin sal volgende week begrawe word. Hy was een van die oudste mededingende liggaamsbouers in die land. FOTO: Pierce van Heerden

’n Maand nadat hy sy dogter verloor het, het die gemeenskap van Heidedal afskeid geneem van die bekende liggaamsbouer, Calvyn Fortuin (83). Volgens sy dogter, Diana Abrahams, het haar pa nog geoefen tot die einde toe.

“Pappa was ’n baie rustige mens. Hy het gelewe vir liggaamsbou, gesondheid en sy gim.”

Abrahams sê hulle gaan veral die dae mis wat hulle saamgesit en tee drink het terwyl hy vir hulle kitaar speel. “Hy het ons baie geleer oor respek en etiket.” Fortuin het tot op die einde nog geoefen en daarom sal sy gimnasium steeds oop bly vir die gemeenskap om te gebruik en om sy nalatenskap te behou.

FOTO: Verskaf

Hy was een van die oudste mededingende liggaamsbouers in die land. Fortuin tel al gewigte op vandat hy net 14 jaar oud was. Sedertdien het hy meer as 300 trofeë en 150 medaljes gewen. In die laaste artikel wat Bloemfontein Courant oor Fortuin geskryf het, het hy nog drie uur per dag, vyf dae ’n week geoefen. “Dit is ‘n groot verlies vir ons familie en vir die gemeenskap. Ons pa het die gim begin omdat hy geglo het dat dit die jong mense uit die kwaad sou hou. ”

Hulle is steeds besig met begrafnisreëlings. Dit sal waarskynlik volgende week Saterdag plaasvind

Gypseenia Lion
gypseenia@mahareng.co.za