Leeskompetisie vir beter leesvaardighede

0
122
Betrokkenes by die leeskompetisie is van links, agter: Andries Smith, Sharon Boyang, Rachel Struis, Lu-anne Kruger en Ryeno Visagie. Voor: Milisza Najoe, Charles Human en Hessie Mahao. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die komitee van die Trevor Barlow-biblioteek het vroeër hierdie jaar ‘n nuwe leeskompetisie geloods met die doel om die leesvaardighede van leerders te verbeter. Volgens biblioteekassistent Rachel Struis, het die komitee besluit om die kompetisie in September aan te bied om saam te val met Literatuurmaand.

“Ons het agtergekom dat ons kinders nie kan lees nie en hierdie kompetisie begin om ‘n verskil in ons gemeenskap te maak. Ons wil ook hê dat kinders en grootmense meer gereeld die biblioteek besoek,” sê Struis.

Die kompetisie, wat op Woensdag 11 September 2019 aangebied is, het 24 graad 6-leerders van Credence en Olympia Primêr in Heidedal as deelnemers gehad. Charles Human, ‘n gemeenskapsaktivis, het in ‘n onderhoud aan Bloemfontien Courant gesê dat lees baie na aan sy hart lê. Hy is van mening dat ‘n mens moet lees as jy jouself wil verbeter. “Ons hoop dat hierdie projek groter en beter gaan word, want ons beoog om volgende jaar meer skole te betrek. Ek voel dit is my plig om kinders te help en om hulle te help om beter te lees,” sê Human.

Die komitee van die leeskompetisie het ook by verskillende geleenthede die skole besoek om leerders te leer lees.

Die wenner van die kompetisie, wat met ‘n spesiale prys sou wegstap, was nog nie bekend met die ter perse gaan van Bloemfontein Courant nie.

Die wenner van die leeskompetisie, Donelle Johnson.
Photo: Pierce van Heerden

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za