Leerder se skets beste uit duisende inskrywings

0
326
Foto: Anri du Plessis, gr. 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, met haar skets van haar boetie en sussie wat een van 13 inskrywings is wat gekies is om in Santam se kalender te verskyn.

Met die aanmoediging van haar sibbe wat wou seker maak sy teken hulle akkuraat, is Anri du Plessis van die Hoër Meisieskool Oranje se kunswerk as een van die 13 bestes in Santam se gesogte kinderkunskompetisie aangewys.

Daar was vanjaar 4335 nasionale inskrywings waaruit 13 gekies is om in die jaarlikse kalender te verskyn.

Die ding wat uitstaan van Du Plessis se kunswerk is dat haar jonger broer en suster op dit verskyn, Dit maak dit baie persoonlik. Die tema was “I spy with my little eye”.

“As my boetie en sussie daardie speletjie speel, sien hulle gewoonlik die helderste kleure raak. My suster, Magda, het ’n helderkleurige skoenlapper raakgesien wat my laat besluit het om haar en Sion in swart en wit te teken en die twee skoenlappers in kleur,” sê Du Plessis. “Ek het hulle buite in die tuin afgeneem waar hulle vooroor leun en my skets van dié foto af geteken,” voeg sy by.

Du Plessis het omtrent twee maande aan haar kuns gewerk. “My boetie en sussie het gereeld daarna kom loer en baie kommentaar gelewer. Hulle was uiteindelik tevrede en is baie opgewonde om volgende jaar oral teen mure te pryk.”

Du Plessis, haar kunsonderwyser sowel as die skool sal elk ’n kalender ontvang. Du Plessis se inskrywing sal R3000 se prysgeld aan die skool besorg wat dit kan aanwend na hul keuse.

“Sy is ’n besonderse talent. Sy is ver bo haar ouderdomsgroep. Sy kan nog groot draaie maak,” sê haar kunsonderwyser, wie se naam toevallig ook Anri du Plessis is.

Gitte Pieterse, ook ‘n leerder van Oranje wat nou in gr.10 is, se kunswerk, Somerbriesie, het in die 2018-kalender verskyn.

info@bloemfonteincourant.co.za