Leerder maak Covid-19-rymkletsvideo

0
716
Die jong rymkletser, Kylie Steenkamp

Kylie Steenkamp, ’n graad 7-leerder aan Fichardtpark Primêre Skool, het haar eie Covid-19-rymklets geskryf. Sy vertel aan Bloemfontein Courant dat die opdrag van haar kunsonderwyser gekom het. Kylie het dit uniek gemaak deur ’n musiekvideo van haar poging te laat opneem.

Sy begin die rymkletsvideo met ’n reël wat verduidelik waaroor die rymklets gaan, “yo, yo, yo, luister bietjie hier, hierdie is die manier om die Covid weg te stuur”. Vir Kylie is hierdie soort opdrag iets wat sy baie geniet, veral omdat sy mal daaroor is om mense te vermaak.

“Ons het regtig nie gedink dat die video soveel reaskie sou ontlok nie,” lag sy. Kylie sê hul klas het ’n opdrag gekry om eerder ’n rymklets te skryf of ’n drama te doen oor Covid-19. Sy het besluit dat sy albei gaan inkorporeer. ”Ek hou van uitdagings en wou graag die twee kombineer.

Ons kon oor enigiets rap en ek het besluit om Covid my onderwerp te maak omdat dit nou ons almal se lewens soveel beïnvloed,” vertel sy verder. Die jong musiekmaker sê die musiekvideo is sommer binne 30 minute by ’n parkie om die draai van hul huis geskiet.

Hanno Otto van Sonador Studio, ’n familievriend, was so gaaf om vir haar die video te skiet. “Die rymklets gaan oor alles wat ons nou in die tyd moet doen om ons veilig te hou, soos om ’n masker te dra, te saniteer, jou hande gereeld te was en jou afstand van ander te hou.”

Haar jonger sussie maak ook haar verskyning in die video waar sy saamdans. Kylie vertel dat haar oupas en oumas mal is oor die musiekvideo is. “Ek het baie komplimente gekry soos ‘awesome’, ‘cool’, ‘sjoe, Kylie, ek het nie geweet jy is ‘n rapper nie’, ‘briljant gedoen’. Vir my was dit alles baie opwindend.” Die video kan gesien word op Facebook onder Sonador Studio.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za