Leer hoe om die kroon te dra

0
1851
Vivian Brink word geïnspireer deur kleure, klanke en reuke. FOTO: EDWARD BAIN

Die plaaslike digter, Vivian Brink, fokus in sy nuutste boek op die skoner geslag.
Brink is in Bloemfontein gebore, maar het op die platteland grootgeword. Hy het in 2004 aan die Hoërskool Wolmaransstad gematrikuleer.
Brink skryf al vandat hy nege jaar oud was. Dit het begin met ‘n droom wat hy gehad het en die enigste manier hoe hy die droom kon verduidelik, was deur ‘n gedig te skryf.
“Ek word baie aangetrek deur kleure, klanke en reuke. Ek plaas myself in ander se skoene om ‘n gevoel te kry van wat aangaan, hetsy dit ‘n goeie òf slegte gebeurtenis is,” vertel hy. Hy is ook gaande oor reën en die berge en dit dra by tot sy goeie skryfwerk.
Sy nuwe boek, About the Crown, is gebore uit sy belangstelling vir skoonheid. Van 11-jarige ouderdom is hy gefassineer deur die Mej. SA kompetisies. “Die boek is nie ‘n storieboek nie, dit is wel ‘n inligtings- of geskiedenisboek oor Mej. SA en Mej. Wêreld.”
Mens leer mos graag iets uit ‘n boek en Brink glo diegene wat belangstel in skoonheidskompetisies sal iets interessants hierin vind.
In die nabye toekoms wag daar beslis nog ‘n paar verrassings. Hy is tans besig met navorsing vir die opvolg van About the Crown.
Brink spandeer nie sy tyd net aan skryf nie, maar ook aan sy familie. Hy is baie geheg aan hulle, verklap hy. “Enige aktiwiteite wat ek saam hulle kan doen, is kos vir my siel.”
Brink gee een van sy boeke gratis weg. Stuur ‘n e-pos aan info@bloemfonteincourant.co.za as jy belangstel om die boek te wen. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za