Leef Korkie nog?

0
1097

Owen Kock

Bloemfontein. – Die sperdatum vir die betaal van die losprysgeld van net meer as R32 miljoen vir die vrylating van Pierre Korkie het verstrek en daar is geen aanduiding of die oud-Bloemfonteinse onderwyser nog leef nie.

Korkie is in Mei verlde jaar saam met sy vrou Yolandé in Taiz in Jemen deur Al-Kaïda gyselaar geneem. Yolandé is op 10 Januarie vrygelaat na onderhandeling deur Gift of the Givers se Anas Al-Hamati in Jemen.

Al-Kaïda het die Korkies toe agt dae kans gegee om die geld in te samel en gedreig om Korkie om die lewe te bring deur hom te onthoof. Die sperdatum is toe met drie weke verleng, en dit was verlede Saterdag.

Nog geen verdedre nuus is beskikbaar oor Pierre of sy gesondheidstoestand nie en daar word uit verskieie oorde gevrees dat hy dood kan wees, hoewel niemand dit met sekerheid kan sê nie.

Gift of the Givers se stigter, dr. Imtiaz Sooliman, het Sondag in ‘n verklaring die volgende gesê:

“My grootste bekommernis is Pierre se gesondheid. Het hy oorleef ten spyte van sy toestand of is hy oorlede as gevolg van komplikasies? Indien hy oorlede is weens mediese redes is dit dalk die rede hoekom Al-Kaïda die laaste 13 dae stil was? As Pierre ernstig siek is en nog leef is dit my opinie dat hulle hom nie om die lewe sal bring nie.

“Daar is sekere faktore wat my tot dié gevolgtrekking bring. Die Al-Kaïda leiers is baie besorgd oor hul openbare beeld al lyk dit of hul voetsoldate nie omgee nie. Die feit dat Pierre ernstig siek is kan beteken dat dit sy einde is en aan die ander kant kan dit dalk net wees wat hom kan red. Dit sal hul openbare beeld skade berokken as hulle ‘n siek man om die lewe bring.

“Die feit dat Pierre ‘n Suid-Afrikaner is, is nog belangrike faktor wat in sy guns tel. Hulle sal dit moeilik vind om hul ondersteuners te oortuig waarom hulle iemand van Afrika, veral Suid-Afrika, om die lewe gebring het aangesien daar geen konflik tussen hulle bestaan nie,” het Sooliman se verklaring gelui.

Intussen is Al-Hamati en sy gesin steeds in Doebai, waar hulle skuiling soek na hy met die dood gedreig is. Teen die tyd dat Courant gedruk is, was daar nog geen vars nuus oor Korkie en of enige nuwe verwikkelinge nie.