Die Afrika-driekampkampioen in die junior vroue-afdeling, Madelaine le Roux, het Saterdag op Bloemfontein Striders se jaarlikse Sweet-en-Eet-10km-padwedloop in Bloemfontein met ‘n yslike verrassing vorendag gekom toe sy die Vrystaat-marathon (42,2km)-rekordhouer vir vroue, Paulina Njeya, op haar herrie gegee het.
Die 19-jarige Le Roux, wat gereeld aan padwedlope deelneem ter voorbereiding vir haar spesialissportsoort, driekamp, was van meet af voor en het tot die einde toe voorgeloop om in 39:31 te seëvier. Sy het Njeya (39:49) maklik met 18 sekondes gewen.
Wat Le Roux se oorwinning merkwaardig maak, is dat die 39-jarige Njeya in 2012 (tiende), 2014 (vyfde) en 2015 (negende) een van die land se voorste Twee Oseane-ultramarathon (56km)-atlete was. In die genoemde 2014-wedloop was sy die eerste Suid-Afrikaanse atleet onder die skoner geslag oor die eindstreep. Joan Viljoen (2:48) was Saterdag ver agter Le Roux en Njeya was in die derde plek.
In die wedloop vir mans het ‘n tweestryd soos min hom afgespeel. Chabeli Nyedimane en die besoeker van Gauteng, Mopenyane Lebelo, was in ‘n stryd betrokke tot kort voor die eindstreep. Nyedimane (30:54) het eers oor die laaste paar meter die oorhand gekry en Lebelo (30:57) met slegs drie sekondes geklop. Pule Hlabahlaba moes met ‘n derde plek in 32:15 tevrede wees.
Die 42-jarige Majake Hlabahlaba, wat oorwinning gesmaak het in die afdeling vir meesters: mans (40 tot 49 jaar) kan tevrede voel met sy mooi tyd van 33:14 en dié tyd het hom boonop die algehele vierde plek besorg.
Tshepang Shebe het die afdeling vir junior mans sy eie gemaak in 33:32. Hy was algeheel vyfde. – RUFUS BOTHA