Bloemfontein – Die Griekwas gaan op hul Curriebekerondervinding staatmaak wanneer hulle die Poemas Vrydagaand in Kimberley in die eerste van twee promosie-relegasiewedstryde pak.
Griekwas-afrigter Pote Human sê die span meen Springbokvleuel Willie le Roux behoort die ekstra inspuiting in die agterlyn te gee. Le Roux, wat van die Springbokke teruggekeer het, is verlede naweek ’n ruskans gegee vir die Poubloues se wedstryd teen die
Goue Leeus in Johannesburg.
Die manne van Kimberley, wat die seisoen met beserings gesukkel het, gaan Vrydagaand sonder die dienste van staatmakers Rory Arnold en Leon Karemaker, wat ook op die krukkelys is, moet klaarkom.
Die kragmetig op GWK Park skop om 19:10 af.