Die wenner en naaswenner in die afdeling vir junior vroue op die Afrika-driekampkampioenskap wat vroeër vanjaar in Bloemfontein beslis is, Madelaine le Roux en Jayme-Sue Vermaas, het Saterdag albei op ‘n byeenkoms by Maselspoort buite Bloemfontein oorwinning gesmaak.
Le Roux het in die afdeling vir vroue (23 jaar) die standaardwedloop getakel, terwyl Vermaas verkies het om in die korter weergawe van driekamp, die “sprint”, haar staal te toon.
Le Roux het haar afdeling in ‘n skaflike 2:28:14 beklink terwyl Vermaas self ‘n nie te versmaai nie 1:13:38 op die uitslagkaart vir haar oorwinning ingevul het.
Le Roux het haar talent onderstreep deur algeheel eerste in die standaardafstand te eindig en dit sluit die manne in wat saam met haar deelgeneem het. Frans Stander, wat die afdeling vir mans (30 tot 34 jaar) gewen het in 2:44:22, het ‘n stewige ent agter Le Roux geëindig.
Hein van der Walt het in die korter weergawe (sprint) algeheel eerste geëindig in 1:12:53 en sodoende die afdeling vir mans (20 tot 24 jaar) beklink. Hy was dus self nie die spreekwoordelike ‘myle’ voor Vermaas nie.
In die afdeling vir seuns 12 tot 13 jaar het Marcu van Dyk (47:27) ‘n goeie oorwinning behaal toe hy dieselfde tyd as die wenner van die afdeling vir seuns 14 tot 15 jaar, Christian Prinsloo, aangeteken het.
Daar is ook dubbelkamp op die byeenkoms aangebied. Dit behels hardloop, fietsry en weer hardloop oor lang afstande, alles aaneen.
Hier het Cara Cilliers in die afdeling vir meisies 8 tot 12 jaar goed vertoon met ‘n wentyd van 20:43.
Trusten Barnard het op haar beurt ook ‘n mooi vertoning losgetrap en gehardloop deur die oorwinning in die afdeling vir meisies 10 – 11 jaar in 19:56 agter haar naam te skryf. – RUFUS BOTHA