Laser Run-byeenkoms kry aftrek

0
2481
Hierdie atlete van die Vrystaat het onlangs van die Suid-Afrikaanse Laser-Run-kampioenskap in die Paarl met medaljes teruggekeer. Voor, van links is: Arina Groenewald (silwer), Alex Klopper (silwer), Miché Johns (brons), Jean-Jacques Holtzhausen (goud) en Stella Heyns (goud). Agter, van links is: Zelda van der Merwe (goud), Lienke Snyman (goud), Charnè Viljoen (goud) en Alida van der Merwe (goud). Medaljewenners wat afwesig was toe die foto geneem is, is Donna le Roux (brons), Sorita Viljoen (silwer) en SW Kruger (brons). FOTO: VAN ZYL NAUDé

Vrystaatse multisportatlete het onlangs die pap dik aangemaak op die Suid-Afrikaanse Laser Run-kampioenskap wat in die Paarl beslis is. Die provinsie se atlete het in hul onderskeie ouderdomgroepe met nie minder nie as ses goud, vier silwer- en drie bronsmedaljes huiswaarts gekeer.

Indien dié multisportsoort onbekend klink, sal jy nie verkwalik word nie. In terme van nuwe sportsoorte is laser run nog in sy babaskoene. Dit is ‘n sportsoort wat so onlangs soos 2015 deur die internasionale vyfkampvereniging op die been gebring is en kan as ‘n sportsoort op sy eie of as deel van moderne vyfkamp (perdry, skerm, swem, hardloop en skiet) beoefen word.

Laser run is ‘n kombinasie van hardloop- en laser-pistoolskiet, wat byvoorbeeld vir senior atlete bestaan uit vier rondes van 800m-hardloop en vyf skote teikenskiet oor ‘n afstand van tien meter. Jonger deelnemers se hardloopafstande is egter korter en hul skietafstande nader aan die teiken.

Van die Vrystaters wat goud by op genoemde kampioenskap in die Paarl verower het, is slegs Jean-Jacques Holtzhausen (seuns o.13) van die Adam-geslag en die res van die skoner geslag. Hulle is Charné Viljoen (junior vroue), Zelda van der Merwe (meisies o.19), Lienke Snyman (meisies o.17), Alida van der Merwe (meisies o.15) en Stella Heyns (meestervroue, 60 jaar plus).

Na afloop van die Suid-Afrikaanse kampioenskap is drie nasionale spanne gekies wat wemel van Vrystaters. Hierdie spanne, die SAMPA-Federasie-, President- en SA-uitnodigingspanne gaan in Oktober op die wêreldkampioenskappe in Kaapstad koppe stamp.

Slegs deelnemers wie se tye in die Paarl binne 10% van die onderskeidelike wenners van die wêreldkampioenskap (2016) was, is vir die Sampa-Federasiespan gekies. Dié persentasiemaatstaf is ook vir die President- (15%) en uitnodigingspanne (25%) toegepas. Daar kan vir makliker verduideliking seker ook verwys word na die onderskeidelike A-, B- en C-span.

Hoewel genoemde maatstawwe gebruik is vir die kies van die spanne, is daar vir seker nie teruggehou wat getalle aan betref wat die groen-en-goud oor die kop gaan trek nie.

Sewentien Vrystaters is vir die Federasiespan gekies. Hulle is (met die plekke wat hulle op die nasionale kampioenskap ingeneem het in hakies): Anina Groenewald (2de), Alex Klopper (2de), Donna le Roux (3de), Lula Nel (4de), Micke de Andrade (8ste), Charné Viljoen (1ste), Zelda van der Merwe (1ste), Lienke Snyman (1ste), SW Kruger (3de), Henro Bender (6de), Jean-Jacques Holtzhausen (1ste), Botha Barnard (4de), Beau Zijlstra (6de plek), Alida van der Merwe (1ste), Chris-Mari Alexander (6de), Stella Heyns (1ste) en Sorita Viljoen (2de). Dan is daar nog die atlete van die Vrystaat wat in die President- en uitnodigingspanne opgeneem is. – RUFUS BOTHA