Lara ‘red’ muis uit kat se kloue

0
610
Lara Muller (2) met die muis wat sy gered het uit die kloue van hul huiskat, Panda.

Nie alle helde dra mantels nie. Hulle is soms net vreeslose klein dogtertjies met goeie hartjies wat nie wil toesien dat ander seergemaak word nie. Dis hoe klein Lara Muller (2) van Bloemfontein, wat verlede week ‘n muis uit hul kat, Panda, se kloue gered het, gevoel het. Haar ma, Marietta Muller, vertel as sy haar dogtertjie moet beskryf, sou sy sê Lara is vreesloos, met ‘n goeie sin vir humor.

Lara Muller (2) met die muis wat sy gered het uit die kloue van hul huiskat, Panda.

“Ons praat altyd van die duisend gesigte van Lara, want sy het ook ‘n bietjie drama in haar. Maar ek dink die kosbaarste is haar besorgdheid oor mense en diere, selfs ook haar poppe en ander speelgoed,” sê Muller.

Die Mullers woon op ‘n kleinhoewe in Groenvlei, waar twee huiskatte deel van die gesin is. Hul swart-en-wit kat, Panda, het ‘n voorliefde vir muise vang en die huis indra.

Rosa het ‘n benoude Marietta van die muis kom red.

Een oggend verlede week, terwyl Marietta gereedmaak het vir werk, kom klein Lara die kamer in, en sê, “Kyk, Mamma.” Eers het Ma Marietta glad nie notisie geneem van waarmee haar dogtertjie besig was nie, maar toe Lara weer sê, “Kyk, Mamma, ek het die muis gered,” het sy vinnig reageer. Sy het so geskrik dat sy “sommer op die bed geland het”, vir Rosa, Lara se tweede mamma, geroep het om te kom help en heel verskrik gewonder het of die muis haar of Lara gaan byt as haar kind die diertjie op die vloer gaan neersit. Lara se woorde, “Moenie bang wees nie, hy’s oulik,” het haar geensins oortuig nie en sy was dankbaar toe Rosa vir Lara en die muis tuin toe neem om die diertjie vry te laat.
Marietta se Facebook-inskrywing, “Ek het omtrent ‘summersaults’ gemaak en in tale gepraat”, het groot pret veroorsaak. Sy sê ook, “‘n Halwe bottel Savlon en drie badsessies later… ek sien weer kans.”

Lara is weer skoon en Marietta hoop sy kry nie gou weer ‘n verrassingsbesoek van ‘n muis in die huis nie. “My hart sal dit nie hou nie.”

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za