Langverwagte enkelsnit ‘val sag’ op die oor

0
1241
Mario Lategan foto: Gerduan Kemp

Plaaslike sanger, akteur, seremoniemeester en sakeman, Mario Lategan, het ná sowat 25 jaar in die musiekbedryf pas sy eerste enkelsnit, “Sagte Val”, uitgereik. Lategan sê hy het eers gewag totdat die tyd behoorlik ryp is voordat hy iets opneem.

Lategan beskryf “Sagte Val” as ‘n tipe kaberet-luisterliedjie en het aan Bloemfontein Courant vertel dat dit nie die tipies konvensionele oorgeklankde Afrikaanse liedjie is nie, maar een wat mense op ‘n emosionele reis neem. “Dit bevat ‘n verrassingselement, as mens dit so kan noem,” sê hy.

Volgens hom kan die lied op verskillende maniere geïnterpreteer word. “Verskillende mense het al op verskillende maniere daarop gereageer. Party dink dit gaan net oor liefde en ander dink weer dit gaan oor musiek wat jou liefde en jou ‘sagte val’ is.”
“Sagte Val” is geskryf deur die bekende jeugverhaal- en kinderboekskrywer, Fanie Viljoen, en is getoonset deur Arno de Wet.

Hoewel Lategan bekend is vir sy klassieke agtergrond, is hierdie lied nie tradisioneel klassiek nie. “Ek dink as Suid-Afrikaanse sanger/kunstenaar kan jy nie jouself net op een genre toespits nie. Die mark is net te klein en hoe meer ‘n mens doen, hoe meer kán jy doen. Ek wou myself nog nooit laat etiketteer nie, hoewel my hart en passie die verhoog en teater bly,” sê hy.

Nie net is hierdie sy eerste enkelsnit nie, maar het Lategan ook ‘n video vir die lied opgeneem, wat almal aan die praat het. Die musiekvideo van “Sagte Val” is beskikbaar op YouTube en op iTunes.

Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za