Langslewendheid 101: Bid elke dag

0
573
Iris Labuschagne

‘n Oumagrootjie van Bloemfontein het in haar 101 lewensjare behoorlik die land en kontinent deurkruis – van Bethlehem tot Arlington, van Arlington tot Pretoria, van Pretoria tot Windhoek, van Windhoek terug na Pretoria, en van Pretoria uiteindelik tot in Bloemfontein.

Hoewel daar Dinsdag ‘n volle honderd-en-een kersies op Iris Labuschagne se verjaardagkoek was, is haar gesondheid uitstekend en haar verstand nog kristalhelder. Labuschagne se enigste wens sou wees dat haar man tot die einde van hul lewenspad aan haar sy kon wees.

Volgens ‘n kleinniggie van Labuschagne, Renay van der Berg, is Labuschagne op 29 Oktober 1918 in Bethlehem as ‘n nooi Morrison gebore. As die oudste van vyf kinders, het Labuschagne haar laerskooljare ten tyde van die Groot Depressie deurgebring.

“Sy onthou onder meer hoe haar ouers in ‘n tent gewoon het. Sy het toe vir vyf jaar by haar tannie in Arlington gebly. Nadat sy in 1936 in Pretoria gematrikuleer het, het sy onder andere as tandarts-assistent gewerk, kantoorwerk gedoen en haar ma twee jaar lank tuis versorg.

“Dis in ook in Pretoria waar sy haar man, Johann Labuschagne, ontmoet het. Hy was toe deel van ‘n reisende toneelagentskap. Die jong egpaar het 1950 na Windhoek verhuis. In die destydse Suidwes het hy as motorhandelaar ook sy eie motoringenieursfirma begin,” sê Van der Berg.

In Windhoek was Labuschagne ‘n tuisteskepper, wat by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke was. Haar stokperdjie in weefwerk het haar heelwat toekennings besorg. In 1966 was hulle Windhoek se burgemeesterspaar.

Na 25 jaar in Windhoek, het hulle terug Pretoria toe getrek waar haar man na 21 jaar weer sy eie ingenieursmaatskappy bestuur het. Drie kinders is uit die huwelik gebore, en hulle het ook ‘n pasgebore babaseun aangeneem is. Haar man is in 2006 oorlede.
Sy woon nou by haar oudste dogter, Nora-Louise Oosthuizen, en die se man, Roelof, in Langenhovenpark, Bloemfontein. Sy het ook vier kleinkinders en vyf agterkleinkinders wat haar groot plesier verskaf.

Maar wat is haar suksesresep vir ‘n lang en produktiewe lewe? Volgens Nora-Louise, is goeie waardes, gasvryheid en vrygewigheid van die eienskappe wat sy altyd van haar ma sal koester. Sy sê haar ma het haar geleer om vriendelik, hulpvaardig en nederig te wees.
Labuschagne het ‘n baie belangrike boodskap vir die jonger geslag: “Bou ‘n diep verhouding met jou Skepper, bid gereeld en doen Bybelstudie. Praat altyd positief – van jouself en ander!”

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za