Langenhovenpark inwoners geprys vir hul vinnige optrede

0
469

Twee rowers het Dinsdag hul Moses teëgekom toe hulle by ‘n huis in Theo Wassenaarstraat, Langenhovenpark, ingebreek het.

Die verdagtes het toegang tot die erf verkry deur bakstene uit 'n muur te breek sodat hulle onder die elektriese heining kon deurkruip. In die huis het die mans ‘n 28-jarige vrou in die kombuis gekonfronteer en aangehou terwyl hulle selfone, rekenaars en motorsleutels gesteel het.

Volgens Langenhovenpark AfriForum se buurtwag wil dit voorkom of die vrou se man kort daarna tuisgekom het. Die verdagtes het op die vlug geslaan. Die man het alarm gemaak en hulp is deur verskeie What'sApp-groepe in die woonbuurt ingeroep.

Volgens Riaan Niemand van die buurtwag was die reaksie van die gemeenskap oorweldigend. 'n Groot groep inwoners, wat lede van verskillende buurtwagte is, asook individue en lede van gewapende reaksiedienste, het op die toneel toegesak.

Twee verdagtes is vasgetrek terwyl hulle probeer het om by ‘n tweede huis in die buurt in te breek. Hulle is in hegtenis geneem en aan die polisie oorhandig. Minstens een verdagte is nog op vrye voet.

Die voertuig waarmee die verdagtes gery het, is ook met  gesteelde goedere en vervalste nommerplate gevind. Daar was gereedskap in die voertuig wat gebruik kon word om by wonings in te breek.

Volgens die polisie is die verdagtes onderskeidelik 25 en 35 jaar oud. Hulle sal na verwagting binnekort in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en poging tot huisbraak.

Generaal-majoor Phumzo Gela, groepbevelvoerder van Parkweg, het die gemeenskap geprys vir hul hulp en ondersteuning in die stryd teen misdaad.- Maricelle Botha