Langenhovenmark open Saterdag

0
531

Daar is opwindende nuus vir die Bloemfonteinse gemeenskap. Die gewilde Langenhovenmark maak op Saterdag 1 Augustus 2020 sy hekke oop vir die publiek ná grendeltyd.

Dit was ‘n lang paar maande vir mense met stalletjies sowel as die publiek toe die mark weens die inperkingsregulasies nie kon gehou word nie. Leon Oosthuizen, bedryfshoof van die Langenhovenmark sê dat hulle gelukkig weke gelede al ‘n aansoek ingedien het om die mark weer oop te maak sodat hulle betyds kon gereedmaak om alles in plek te hê wanneer hulle toestemming ontvang.

“Die inperking het baie van ons op ons knieë. Daar is talle uitstallers vir wie hierdie ‘n substansiële inkomste is. Ons hoor almal van mense wat nie meer hul huur kan betaal nie, wat hul medies moes kanselleer, en so aan,” sê Oosthuizen. Hy sê hulle is dankbaar dat hulle weer mag oopmaak, al moet die mark by ‘n “nuwe normaal” aanpas.

Leon Oosthuizen

Volgens die inperkingsreëls sal daar slegs een hek (hek 12), die hek aan die taxistaanplek se kant, oop wees ter wille van toegangsbeheer. “Die uitstallers moet in die oggend om 06:00 aanmeld, sodat hulle deur al die nodige siftingsprosesse kan gaan en hul stalletjies kan reinig en gereed maak vir die mark,” voeg hy by.

Oosthuizen sê dat die mark om 08:30 oopmaak vir die publiek en sal duur tot 13:00. Dit is om te verseker dat besoekers kans kry om by hul gunstelingstalletjies uit te kom en ook omdat slegs 350 besoekers op ‘n slag op die markterrein mag wees.

“Niemand mag natuurlik die mark besoek sonder om ‘n masker te dra nie en ons versoek almal om te hou by die 1.5-m-sosialeafstandreël.”

Hy bevestig dat hulle sal moet wag en sien hoeveel uitstallers dadelik terugkeer; baie van hulle kan dit dalk nie bekostig om uit te stal nie “‘n Paar uitstallers het reeds laat weet dat hulle in die hoërisikogroep val en nie nou al sal kan begin uitstal nie. Baie kan egter nie wag vir die hek om oop te maak nie,” sê hy.

“Ons is opgewonde oor Saterdag, maar weet glad nie wat om te verwag nie. Gaan die mense na die mark stroom omdat hulle uitgehonger is, of is daar baie wat bang is? Die slim mense sê gelukkig dat sonskyn en die buitelug goed is vir ons en sleg is vir die virus. Ons glo dus dat almal baie veilig sal wees op die groot terrein en dat dit ‘n wonderlike dag sal wees vir uitstallers en besoekers.”

Die mark versoek nuwe en tydelike uitstallers om net eers die kantoor te kontak by 084-919-1676, sodat hulle die toegangvorm vir hulle kan stuur en hulle weet wat die vereistes is wat nagekom moet word.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za