Langenhoven-mark doen deel vir VS-boere

0
1101
Jan en Janus Combrinck by die Langenhoven Mark.

Besoekers aan die Langenhoven-mark het onlangs hul harte en beursies oopgemaak nadat die mark ‘n spontane fondsinsameling gehou het om geld in te samel vir die boere wat so baie verloor het in die onlangse brande.

Volgens die bedryfshoof van die Langenhoven-mark, Leon Oosthuizen, was die gedagte eintlik dat die mense die volgende Saterdag geld en geskenkbokse sou bring vir dié projek. “Ons uitstallers en besoekers se harte en beursies het egter nie gewag tot die volgende Saterdag nie. Voordat ons ons oë kon uitvee, is daar meer as R45 000 ingehandig.”

Hy het vertel hoedat die volgende Saterdag toe ‘n reëndag was, wat die projek redelik in die wiele gery het, maar die bedrag het gegroei tot R49 805 en daar het ook enkele bokse ingekom.

“Ons het die geld oorbetaal aan Vrystaat Landbou se rampfonds, aangesien ons meen hulle is gerat is om dit die beste te kan versprei onder mense met die grootste nood.”

Oosthuizen het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit nie die eerste keer is dat hulle so ‘n spontane insameling hou by die mark nie. “Ons het al voorheen ook geld ingesamel vir mense in nood of kinders wat groot operasies moes ondergaan.

Ons keur egter net so een of twee projekte per jaar goed, anders sal daar elke Saterdag insamelings wees en dit is immers nie die primêre taak van ons omroeper nie.”

Die insameling vir die boere by die mark is vir eers afgehandel. Oosthuizen sê hulle hoop en glo dat die reën wat die tweede Saterdag die projek gekniehalter het, ook in gebiede geval het waar die brande soveel skade aangerig het en dat daar op hierdie wyse ook reeds ‘n bietjie verligting gekom het.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za