Laerskool groet slagoffer met gedenkdiens

0
528
‘n Gedenkdiens vir Credence Laerskool se graad ses-leerder, wat die afgelope naweek in Heidedal, Bloemfontein, doodgesteek is, word môre 12-uur by die skool gehou.

Dit kom nadat ‘n man in sy twintigs glo die seun met ‘n mes aangeval het toe hy op pad winkel toe was.

Skoolhoof, Maureen Ridgard, het aan OFM-nuus gesê in die laerskool se bestaan van 32 jaar, is dit die eerste keer dat hulle ‘n leerder só aan die dood afstaan. Ridgard, wat reeds sestien jaar lank skoolhoof by dié laerskool is, sê as skool het hulle net beheer oor die veiligheid van leerders op die skoolterrein en nie daarbuite nie.

Ridgard meen in ‘n poging om dissipline toe te pas en om ‘n kultuur van veiligheid by die skool te verseker, pas die skool streng reëls toe en maak hulle van die plaaslike polisie gebruik om leerders oor sekere gevare in te lig.

Hierdie voorval het plaasgevind te midde van ander berigte oor skoolgeweld in die land. OFM-nuus het voorheen berig in ‘n onlangse voorval by Thuto Tiro Comprehensive School in Sebokeng in Gauteng, is ‘n 15-jarige in hegtenis geneem nadat hy sy 14-jarige klasmaat na bewering met ‘n skêr in die bors gesteek het tydens klaswisseling, wat gelei het tot die leerder se dood. Daar word beweer dat die seuns besig was om mekaar te terg toe die voorval plaasgevind het.

Die begrafnis van die Credence-leerder vind Vrydag in Heidedal plaas.

OFM-nuus/Elsabé Richard