Laer betaling kwel staatswerkers

0
474
Die Departement van Gesondheid se woordvorder, Mondli Mvambi.

Rekeningkundige klerke by die Departement van Gesondheid in die Vrystaat sê hulle voel hulle is in die duister gelaat omdat hulle by verskeie mense in die departement gehoor het dat ‘n verlaging in salaris dalk vir hulle voorlê.

Een van die klerke, Dora Marais, het aan Bloemfontein Courant gesê dat daar ‘n besluit geneem is in 2009 waarvolgens alle werknemers wat op salarisvlak 6 is na vlak 7 bevorder sou word. Dié besluit is toe in 2010 geïmplementeer. Volgens haar moes hulle met die betrokke administratiewe persone vergader het, maar die vergadering is op die dag gekanselleer en sedertdien het hulle niks verder gehoor nie.

“Ons het ook elke jaar wanneer ons presteer het in ons werk een kerf van ons salaris ontvang, wat gelyk is aan 1.5% van ons totale salaris. Sedert 2014 het die departement dit gestaak,” sê sy.

Daar was nog ‘n paar mense wat in 2014 hierdie prestasiebonus (pay progression) gekry het, maar hulle is aangesê om dit terug te betaal aan die departement. Volgens Marais wag hulle nou nog vir die departement vir die rede waarom die prestasiebonus in 2014 gestaak is.

Intussen het die departement se woordvorder, Mondli Mvambi, aan Bloemfontein Courant verduidelik dat daar vanaf 2010 ongeveer 279 amptenare was wat verkeerdelik en onwettig van ‘n salarisvlak 6 na ‘n salarisvlak 7 bevorder is. In 2018 het die hoeveelheid amptenare tot sowat 184 afgeneem, sommige het weens aftrede diens verlaat, ander het na groener weivelde gaan soek, en ook om verskeie ander redes.

Toe die departement volgens Mvambi die fout ontdek, is daar besluit om nie die geld terug te eis van die werknemers nie. “Die departement is nou besig om na graderingsbevorderings in alle kategorieë te kyk en die inligting sal gepubliseer word wanneer die proses voltooi is. Amptenare wat tegnies geld skuld aan die departement, sal egter nie bevorder word nie,” sê hy.

Die departement het die vakbonde by die Bedingingsraad (Bargaining Chamber) in Oktober 2018 in kennis gestel van hierdie probleem en die vakbonde het aanvaar dat werknemers van die departement moet teruggaan na ‘n vlak 6-pos.

“In Januarie 2019 het die werknemers skielik nie meer dieselfde gevoel nie en die vakbonde het gedreig om die hofroete te volg, wat hulle toe nie uitgevoer het nie.”

Mvambi sê dit is verkeerd vir mense om te sê dat die departement amptenare degradeer. Al wat die departement doen is om die probleem reg te stel en hierdie aksie is vanaf 1 April 2019 geïmplementeer. – Sazly Hartzenberg 
sazly@centralmediagroup.co.za