E Copy

Date:

KZN-susters wen titels op VS-swemkampioenskap

RUFUS BOTHA

Twee susters van KwaZulu-Natal (Umhlanga Rocks) en boonop albei van Suid-Afrika se voorste swemmers in die oopwater-dissipline, Carmen (17 jaar) en Clarice le Roux (19 jaar), het Sondag by die Vrystaat-oopwaterswemkampioenskap op Maselspoort buite Bloemfontein amok gemaak. Hulle het onderskeidelik die 5- en 3km-afstand vir vroue gewen. Die goeie nuus is dat hulle nie slegs Bloemfontein toe gereis het om titels te buit nie – Clarice het haar verlede week by die die Universiteit van die Vrystaat ingeskryf en sal voortaan deur die bekende afrigter, Marco Markgraaff, afgerig word. Dit is ‘n groot aanwins vir swem in die Vrystaat. 

Carmen het Sondag die 5km in ‘n haastige 1:05:12 gewen. Sy het die tweede vrou, Marné Frylinck (1:08:15) maklik getroef, en let wel, Frylinck is self ‘n puik swemtalent op nasionale vlak. Kirsten Grace Davies (1:14:28) het heelwat later uit die Modderrivier geklim vir haar bronsmedalje.

Wat Carmen se oorwinning soveel aansien verleen is dat sy 48 sekondes vinniger geswem het as die wenner in die mansafdeling, Eric le Roux (nie familie van Carmen nie). Eric het 1:06:00 aangeteken en is in die mansafdeling deur Francois Theron (1:07:45) gevolg. Ter versagting moet egter gesê word dat Carmen in oopwaterswem spesialiseer terwyl Eric (Le Roux) en Theron kranige kortafstand-swemmers is. Soos Theron ná die 5km tong in die kies aan Courant gesê het: “Ek verkies ‘n swembad waar ek die bodem kan sien”.

In die 3km het Clarice die Le Roux-susters se vaandel laat wapper deur in die vroue-afdeling die septer te swaai in 39:37. Sy het maklik van die tweede swemmer, Dané Steyn (42:37), ontslae geraak. Samantha Straw (46:41) was nóg verder agter in die derde plek. 

Clarice het ook die manne harde bene laat kou. Sy was op haar beurt slegs drie sekondes agter die wenner van die mansafdeling (3km), Raul Henney (37:34). Die tweede deelnemer in die mansafdeling, Wesley Schutte (42:49), was ver agter Clarice. Hoewel dit nie ‘n Vrystaatkampioenskapnommer was nie, het Carmen, Clarice en Frylinck mekaar ná hul onderskeidelike 5- en 3km-nommers in ‘n 1km (14 tot 30 jaar) aangevat. Dit het in ‘n prag-driestryd ontaard, maar die jongeling, Carmen (13:07), het te veel skietgoed einde toe gehad vir Frylinck (tweede, 13:22) en Clarice (13:32), wat dié keer met die derde plek tevrede moes wees. Clarice, wat haar studies dié week by die Kovsies begin (LLB-graad) en haar suster, Carmen, se oopwaterswemrekords spreek boekdele.

Buiten vir verskeie deelnames aan internasionale kampioenskappe (junior en senior vlak), het dié twee begaafde susters saam vir Suid-Afrika deelgeneem op verlede jaar se wêreld-oopwaterkampioenskap vir senior swemmers wat in Rusland beslis is. En, hulle is albei steeds juniors.‘n Sterk moontlikheid bestaan dat die jonger Le Roux (Carmen) aanstaande jaar ook Kovsies toe kom vir haar tersiêre studies. 

Share post:

Popular

More like this
Related

Ondersteun Corban se stamselbehandeling

Corban Pretorius is op die ouderdom van 18 maande...

‘Robin in the Hood’ brings laughs and magic to the Rabbit Studio stage this June

Xander Art Productions, in association with The Rabbit Theatre...

Local short film ‘Vultures’ shines at Cannes

A local short film, “Vultures”, has soared to international...

PROMOSIE: ’n Kwarteeu van kuns en kultuur: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar

In die hart van die Vrystaat vier die Vrystaat...