Kyra slaan kanker vir ‘n ses!

0
1893
Kyra Burger dans op die strand tydens 'n onlangse seevakansie.

Luister potgooi hier:

 

Kyra Burger (4) van Bloemfontein, wat op vyf maande met neuroblastoma gediagnoseer is, veg van babadae af teen dié baie seldsame kanker wat net by kinders voorkom en in die adrenalienkliere onstaan.

Die einde van dié moedige stryd, wat Bloemfontein Courant oor die jare nougeset gevolg het, blyk egter nou in sig te wees.

“Dit gaan baie goed met Kyra, sy is ‘n regte sonstraal, geniet haar skool en sy is net lief vir die lewe en leef elke sekonde van elke dag voluit. Kyra het ook nou met dansskool begin en ons is net so dankbaar aan die Hemelse Vader vir haar genesing,” sê haar ma, Mandi Venter.

Venter sê dat dit haar steeds hartseer maak om na foto’s en video’s te kyk waar Kyra nog klein is, sonder hare en besig om chemoterapie te ontvang.

Venter het aan Courant gesê dat Kyra nou al vir 17 maande in remissie is en dat dit baie goed met haar gesondheid gaan. Sy word hierdie jaar vyf en haar gesin sien uit daarna om haar te sien groot word. “Sy’t nou ‘n bos krulhare en as sy net wil stilsit, sal ek heeldag daarmee speel.”

Sy sê dat hulle in April en weer in November Amerika toe moet gaan vir Kyra se behandeling en dat hulle geld insamel om dit moontlik te maak. “Dit is nie lekker vir ons om geld te vra nie, maar vir ‘n mens se kind sal ‘n mens enigiets doen.”

Venter kyk terug op die afgelope paar jaar en vertel hoe hulle altyd gekyk het na ander mense se seevakansiefoto’s en gewens en gebid het dat hulle eendag die voorreg sou hê.

Kyra Burger word vanjaar vyf jaar oud en sal in November met haar behandeling in Amerika klaarmaak.

“My hart was seer, baie seer. Jy wil die beste vir jou kind hê, maar wat doen jy as dit uit jou hande is, want niks wat jy doen kan die eina wegvat nie. Kindertjies vasgevang in hospitaalkamers, hulle speelplekkie was die hospitaalgange, hulle drip stands was hulle fietse, en dis waarmee hulle resies gehou het en lekker gelag het, maar wanneer die kinders rustig slaap dan sit die mammas met al ons vrese wat deur ons koppe gaan. Ons huil en bid onophoudend.”

‘n Manne-aand gaan op 7 Julie by The Buffalo aangebied word, waar ‘n veiling gehou sal word om geld in te samel vir Kyra se laaste twee behandelings. Om te bespreek vir die manne-aand, kontak 082 417 7123.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za