Kyra skooltjie toe vir eerste keer

0
1063
Kyra op pad skool toe vir die eerste keer

Ná drie jaar van wag, het 2021 met groot opgewondenheid vir Kyra Burger begin. Dit nadat sy vir die eerste keer aan die begin van hierdie week skool toe kon gaan.

Volgens haar ma, Mandi Venter, kan haar dogtertjie, wat op vyf maande met neuroblastoma gediagnoseer is, vanjaar ‘n kans kry om ‘n normale kinderlewe te lei en met ander kinders te speel. Venter vertel sy het lank gebid oor die saak of sy Kyra kon skool toe stuur. “Hoe ongelooflik groot is die Here, Hy het my geleer om geduldig te wees,” sê sy.

Volgens Venter wou hulle oorspronklik nie vir Kyra in ‘n skool sit nie omdat hulle bang was dat sy later dalk nie weer sou kon teruggaan skool toe nie. “Vrydag, toe ons by ‘n speelplekkie was en ek sien hoe sy na die maatjies kyk, het dit aan my hart geruk,” sê Venter.

Sy het onthou hoedat Kyra altyd die een was wat moes kyk hoe ander maatjies speel en deur haar hospitaalvenster gestaar het die karre en die stad se liggies daar buite. Venter het die dokter in Amerika gebel en gevra of Kyra mag skool toe gaan. Hy was tevrede daarmee en “net daar het ons besluit om haar vir ’n halfdag drie dae in ‘n week te stuur,” vertel sy.

Mamma se briefie aan Kyra:

My liefste Kyra, Mamma is so trots op jou, my bors wil sommer bars so trots is ek op jou. Jy was deur so baie maar elke dag het jy gelag, elke dag het jy mamma baie geleer, ek was veronderstel om jou sterk tehou maar waarheid is jy het my sterk gehou, my geleer hoe om sterk te wees en nooit op te gee nie. Jyt so baie mamma se trane af gevee en my getroos, van 5maande af het jy nie n keuse gehad nie, hy moes deur die eina gaan en jy moes baie mis wat my hart gebreek het. Op 3 en n half jaar ouderdom weet jy hoe die bloeddruk masjien werk, jy neem sommer jou eie bloeddruk en tempratuur, sit self die masjien aan, jyt altyd jou poppe se “Hickmanlyn” skoon gemaak, presies soos mamma en pappa en Dr joune skoon gemaak het, jy het so baie geleer op so jong ouderdom en so baie vermag, dink net wat gaan jy alles kan vermag en bereik in die toekoms. Na so lank se gebid en hoop en vertrou gaan jy skooltjie toe my liefie!! Dis vir mamma bitter sleg en ek gaan jou so mis maar jy verdien dit, so geniet alles tenvolle, en alles wat jy doen doen dit voluit, geniet die lewe voluit, lag uit jou maag uit, maak duisende maikies, wees laf, verspot en stout(wees stout by jou Juffrou haha) jy verdien al die geluk in die wêreld my engel. En moet nooit verander nie, jys uniek, spesiaal en die mooiste dogtertjie met die grootste hart. Wanneer ek na jou kyk besef ek net weer hoe gebless ek is met n kind soos jy, eks die lucky een, want Kyra Leonie Burger, jy is myne.

“Ek dink dit het my as ouer nog nie mooi getref dat my klein vegtertjie en beste maatjie skool toe gaan nie. Van geboorte af is ek 24 uur by haar en nou gaan sy skool toe.” Venter sê nadat Kyra se toetse verlede jaar almal skoon teruggekom het, het hulle oorsee gegaan vir die DFMO-behandeling (spesifi ek vir neuroblastomalyers), waarná Kyra elke maand vir die eerste drie maande moes gaan vir toetse. Op 4 Februarie vanjaar sou hulle weer Amerika toe gaan, maar weens die inperkingsregulasies kon hulle nie in Qatar aan boord gaan vir ‘n aansluitingsvlug na Amerika nie.

“Ná meer as vyf uur se gewag sonder antwoorde of kos, moes ons hoor ons moet terug SA toe. Ons het baie geld verloor.” Venter sê sy is steeds besig om hul geld te probeer terugkry. Hulle moet nog so twee of drie keer Amerika toe gaan, maar vir nou drink Kyra elke dag haar medikasie as deel van haar behandeling.

“Kyra doen baie goed en sy is baie besig, ek dink sy haal verlore tyd in.” Vir die wat graag ‘n donasie wil maak kan vir Mandi kontak by 064-680-9544.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za