Kyra se ma wil bewustheid oor kinderkanker skep

0
213
Kyra Burger by die Trail Run-fondsinsameling.

Kyra Burger, die dapper kankerlyertjie oor wie Bloemfontein Courant gereeld berig, se ma staan in verwondering oor die baie mense van Bloemfontein en die wat van ver af gekom het om die onlangse Trail Run-fondsinsameling vir Kyra te ondersteun.

“Die gemeenskap in en om Bloemfontein het ‘n groot verskil gemaak in ons en in Kyra se lewe. Daar het ongeveer 150 mense by die trail run opgedaag, wat meer is as wat ons verwag het,” sê Mandi Venter.

Volgens Venter was dit ‘n baie suksesvolle fondsinsamelingsdag en haar hart loop oor van dankbaarheid elke keer as sy daaraan dink.

Sy vertel hoedat sy nie haar trane kon terughou nie toe sy haar “dankies moes sê vir die mense wat hul harte oopgemaak het”. Sy het bygevoeg, “Ons is dankbaar om te kan sê dat ons R9 000 ingesamel het. Elke bietjie help en ons sou dit nie sonder die mense wat ons ondersteun kon doen het nie.”

Sy vertel dat hulle van plan is om nie net verdere fondsinsamelings vir Kyra te hou nie, maar ook vir die pediatriese onkologie-afdeling van die Universitas-hospitaal. Haar doelwit hierdie jaar is om die volle Comrades virtueel te hardloop terwyl sy ook soos ‘n gifappeltjie gaan aantrek om mense in die stad en op die N1 bewus te maak van kinderkanker.

Nog een van die groot kankerbewustheidplanne vir 2021 is om in September, Kinderkanker-bewustheidsmaand, ‘n vryval-geleentheid (sky diving) te hou.
“Ons het baie planne om bewustheid te skep omdat ons voel kinderkankerlyertjies verdien dit.”

Venter wil graag alle persone en borge wat klein Kyra ondersteun het, uit die diepte van haar hart bedank. “Ons sien uit daarna om nog baie suksesvolle fondsinsamelings te hou.”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za